

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 June 2008
Dit lyk of inwoners maar moet ligloop en baie uitvra voor ‘n voertuig alleen by ‘n karwassery gelaat kan word. Een ongelukkige inwoner vertel van ‘n nare ondervinding waar daar met sy bakkie rondgery is, ‘n ongeluk gemaak is en hy as eienaar sowaar ‘n boete ontvang omdat hy dan nou sy voertuig aan ‘n ongelisensieerde sou gegee het …
Mnr. Braam van Wyk het Saterdagoggend (14de) omstreeks 11:00 sy voertuig, ‘n wit Isuzu bakkie, na ‘n karwassery in die dorp geneem om te laat skoonmaak.
"My huis is net ‘n paar blokke van die karwassery af. Een van die werknemers wou my huis toe bring en ek vra toe in Sotho of hy ‘n lisensie het. Hy sê toe nee. Ek sê toe kom ons wag dan eerder vir die bestuurder van die karwassery. Hulle het hom gou by die kafee of iewers gaan roep en hy het my huis toe geneem. Ek het aangeneem dat hy ‘n lisensie het," vertel Braam.
Na meer as twee ure was daar nog geen teken van die voertuig nie, maar toe die voordeurklokkie lui, het daar ‘n polisie inspekteur gestaan.
"Hy het my die tyding gebring dat my voertuig in ‘n ongeluk betrokke was in Cellierstraat, wat seker twee tot drie kilometer van die karwassery af is en glad nie in die rigting van my huis nie. Ek moes die afleiding maak dat iemand by die karwassery sonder toestemming met my bakkie gaan rondry het," sê Braam.
Van Wyk het omstreeks 16:00 sy voertuig by die polisiestasie gaan haal waar hy vrae gevra het oor wat sy regte is. "Ek het besluit om eers te kalmeer en nie stappe te neem voor Dinsdag, die dag na die vakansiedag, nie," sê van Wyk.
Die deurklokkie het egter weer gelui, omstreeks 20:00. Hierdie keer was dit twee ander polisie inspekteurs en saam met hulle in die voertuig was die bestuurder wat met die bakkie gaan ry het en ‘n ongeluk gemaak het.
"Hulle stel my toe in kennis dat hulle net hier is om my dagvaardiging te bring om in die hof te verskyn en ’n boete van R1 500 te betaal, omdat ek ‘n ongelisensieerde persoon toegelaat het om my voertuig te bestuur, ingevolge die Padvervoer Wet 93 van 1996, afdeling 3," sê Van Wyk.
Volgens inligting het die bestuurder wat die bakkie sonder toestemming bestuur het, ‘n stopstraat oorgeslaan in Cellierstraat en in ‘n polisieman se privaatvoertuig, ‘n sedan, vasgejaag. Die bakkie het skynbaar die linker agterkant van die polisieman se voertuig getref en daardie wiel beskadig, waarna die sedan omgeswaai het en die regteragterwiel ook beskadig is, moontlik teen die randsteen.
"Dit klink vir my of die sedan daarna soos ‘n tweewiel motorfiets was. Die bakkie moes dus op ‘n taamlike spoed gewees het," sê Braam. Die skade aan die bakkie beloop ongeveer R10 000.
Van Wyk het advies ontvang om ‘n klag te lê vir die gebruik van sy voertuig sonder toestemming.
Die eienaar van die karwassery in Stubbsstraat is herhaalde kere geskakel, maar die stemboodskap het gelui dat daar nie ‘n boodskap gelaat moet word nie. By nog ‘n geleentheid het iemand geantwoord, maar dadelik die foon afgeskakel.
Intussen blyk dit dat daar al tevore probleme opgeduik het. In ‘n vorige geval is ‘n motor by dieselfde karwassery agteruit bestuur en het na bewering ‘n ander voertuig gestamp tot binne in die oorkantste erf.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
