

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 July 2008
Baie mense glo die warm winderige toestande wat Dinsdag begin het bring die ernstige koue, maar vir die Oosthuizen-egpaar van die plaas Last Hope op die Vivo-pad het dit ook skade gebring.
Die sterk rukwinde Woensdagoggend het ‘n ou Jakaranda-boom op hul erf ‘n finale nekslag toegedien en omgewaai. Soos die noodlot dit wou hê, het die boom bo-op twee van hul voertuie beland en die uitgangspad versper.
Met die Zoutpansberger se aankoms op die plaas het Hein, Hannetjie en hul seun Hein-Julius steeds verslae gestaan en kyk na die skade. Hul Volkswagen-minibus het onder die gewig van die swaar boom gekreun – voorwiel hoog in die lug soos die boom op die agteras afgedruk het. Een van die takke het Hannetjie se Golf getref en ‘n duik in die dak geslaan.
“Dit het geklink soos ‘n geweerskoot. Ek het eers gedink iemand skiet op my,” het Hein vertel. Die slag was egter die boom wat geknak en platgeval het.
“Jy sal nie glo nie. Net verlede week wou ons die versekering op die minibus kanselleer. Ook maar goed ons het nie,” sê Hannetjie.
Ten spyte van die Oosthuizen-egpaar se skade, is daar in hierdie storie ook ‘n ligpuntjie. Met klagtes van swak dienslewering het ook die plaaslike brandweer al in die verlede onder kritiek deurgeloop. Die skrywer van hierdie artikel kan egter in dié geval die teendeel bevestig.
Toe die joernalis die oproep ontvang het van die boom wat geval het, was hy besig met ‘n onderhoud met mnr. Jack Ramalatso, afdelingsbestuurder van die brandweer op Louis Trichardt. Na die telefoonoproep wou mnr. Ramalatso dadelik weet wat gebeur het. Hy is kortliks ingelig, waarna hy onmiddellik ‘n span reddingswerkers (hyself inkluis) bymekaar gekry het en sommer die joernalis na die plaas vergesel het. Daar aangekom, het hulle dadelik begin om die boom uitmekaar te saag en binne ‘n paar minute was feitlik die hele boom al vanaf die voertuie verwyder. Hul optrede het getuig van uiterse professionaliteit. Die Oosthuizen-egpaar het ook groot lof gehad vir mnr. Ramalatso en sy span vir hulle flinke en professionele optrede.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
