

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 July 2008
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê dat Levubu ‘n voorbeeld van ‘n verskeurde gemeenskap is wat dit kon regkry om, te midde van grondeise, weer op te staan.
Die eerste eise op Levubu 5 is op 7 April 2000 gepubliseer. Verdere eise is daarna in Mei 2001, April 2005, Julie 2006, Januarie 2007 en die jongste op 7 April 2008 gepubliseer. Intussen het omtrent 55 boere van hul grond afstand gedoen en die gebied verlaat.
“Die geldigheid van die eise is tot dusver nog nie deur die staat bewys nie. Dit beteken dat daardie boere wat Levubu verlaat het en hul grond aan die staat verkoop het, dit uit vrye wil gedoen het sonder dat die geldigheid van die eise bepaal is ... Hierdie proses van nasionalisering het tot dusver tot grootskaalse ekonomiese agteruitgang en sosiale verval van die Levubu gemeenskap gelei.” So sê mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg DLU.
Mnr. Doors le Roux, ‘n boer van Levubu, het Hoffman se stelling beaam en genoem dat hy van geen geval weet waar boere wat hul grond weens grondhervorming verkoop het hulself in ‘n soortgelyke of beter posisie kan plaas met die geld ontvang, as waarin hulle was nie.
“Almal is slegter af. Eisers is meestal slegter af as landbouers as wat hulle sou wees indien hulle die geld geneem het en dit belê het. Plaaswerkers het hul werk verloor. Tot wie se voordeel was die hele oefening? Nie die boere, nie die eisers en ook nie die landsekonomie nie, want valuta en voedselsekerheid word verloor in ‘n wêreld waar voedsel tekorte en hongersnood dreig,” het Le Roux gesê.
Maar ten spyte van die grondeise en meegaande probleme ten opsigte van misdaad, begin boere op Levubu nou weer vorentoe kyk.
“Die implementering van steunkringe in die gebied het misdaad afgedwing na ‘n vlak waar kabeldiefstal en ander klein diefstal al is wat oorgebly het. Dit beteken egter nie dat daar nou agteroor gesit kan word en dat die situasie nie weer sal versleg nie, maar wel dat aksies suksesvol was en volgehou moet word,” het Le Roux gesê. Hy maak die gevolgtrekking dat die gebied gestabiliseer is en dat boere nou kan begin werk aan normalisering. In hierdie konteks beteken normalisering dat aandag gegee word aan die faktore wat die gebied ‘n hupstoot kan gee vir ekonomiese groei. Projekte waaraan gedink word is onder meer kragopwekking uit neutdoppe en houtafval, asook die vestiging en uitbreiding van sekondêre landboubedrywe soos verdere verwerking van landbouprodukte en hout.
Uit bogenoemde sê Joubert dit is duidelik dat ‘n gebied weer kan opstaan as die wil daar is.

ADVERTISEMENT:
