ADVERTISEMENT:

 

Geswel en onder verdowing … Die sestien-maande-oue Austin kort voordat hy verlede Donderdag inderhaas ‘n hartoperasie moes ondergaan.

Jong egpaar se babaseuntjie draai by die dood om

 

News  Date: 18 July 2008

 

‘n Dag later en julle kind kon dood gewees het … Dit was die boodskap wat medici vir die jong Wasserman-egpaar van Louis Trichardt gehad het, nadat hul sestien-maande-oue seuntjie verlede Donderdag inderhaas ‘n hartoperasie moes ondergaan.

Met trane nog steeds vlak in die oë, het pa Gawie Woensdag vertel van die emosionele uitmergeling wat hy en sy vrou Carine die afgelope twee weke moes verduur, terwyl hul babaseuntjie Austin letterlik daagliks voor hul oë agteruitgegaan het. Hy sê Austin sukkel van geboorte af met sy gesondheid en die laaste paar maande was hulle kronies by die dokter. Op Sondag, 5 Julie, het sy toestand skielik ‘n dramatiese wending vir die ergste geneem.

“Hy het skaars geslaap, dan is hy weer wakker. Sy lippies het begin blou word en hy kon geen kos inhou nie,” vertel Gawie.

Dieselfde dag het die egpaar vir klein Austin dokter toe geneem waar sy toestand, volgens Gawie, toegeskryf is aan tandesny. Die familie is toe maar weer huis toe met ‘n stropie vir die pyn. Austin se toestand het egter nie verbeter nie.

“Maandag (7de) is ek met hom deur na ‘n pediater in Polokwane. Hulle kon niks verkeerd vind nie. Hulle wou nog verdere toetse doen, maar waarvoor toets jy as jy nie weet waarvoor om te kyk nie. Dieselfde het gebeur toe hy ses maande oud was toe hulle ook ‘n klomp toetse gedoen het. Dit het my R25 000 gekos en ek het daar uitgestap sonder dat hulle vir my kon sê wat fout is met Austin,” sê Gawie. Tog het die egpaar in daardie stadium gedink dokters het uitgevind wat verkeerd is met Austin, want toe hy in die hospitaal gelê het op ‘n drip en antibiotika het hy begin beter voel.

“Hy het nie meer aanhoudend geskreeu nie, hy het geslaap en hy kon sy kossies inhou”.

Tydens sy besoek aan die pediater verlede week is Gawie R700 se asma en sinus medikasie gegee. By die huis aangekom het die egpaar dadelik begin met die behandeling, maar Austin se simptome het maar alles net weer teruggekom.

Dinsdag, 8 Julie was daar nog geen teken dat Austin beter word nie.

“Hy wou nie eet of drink nie. Niks nie … Ek het besef hier is iets groter fout as net asma- of sinus. Toe neem ek vir Austin na dr. André van der Walt toe. Hy het skaars vir Austin begin ondersoek toe sê hy ons seun het longontsteking.”

Austin is dadelik in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal opgeneem en op ‘n drip gesit.

Dr. Van der Walt het ook dadelik aangevra dat daar X-strale van sy bors geneem moet word. By ontvangs van die X-strale, vertel Gawie, het dr. Van der Walt gesien dinge lyk nie reg nie en dadelik die plate na ‘n pediater by die Unitas Hospitaal in Centurion gestuur vir ‘n tweede opinie.

Woensdagoggend (9de) het die Wasserman-egpaar die nuus ontvang dat Austin ‘n vergrote hart het en dat hulle hom dadelik na die Unitas Hospitaal moet bring. Waar ‘n normale hart sowat die helfte van die borskas vul, het klein Austin se hart feitlik sy hele borskassie volgelê.

“Ek het deurgejaag Unitas toe. Austin is onmiddellik in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en daar is begin met medikasie”.

Nog X-strale is geneem en daar is gevind dat buiten vir sy vergrote hart, Austin ook ‘n vergrote lewer het. Gawie verduidelik dat dit veroorsaak is vanweë die feit dat die hart nie genoeg bloed kon pomp nie. Die lewer het toe vergroot om meer bloed te verskaf. Die rede waarom die hart nie normaal kon klop nie, was omdat die hartvlies ontsteek het. Vog het toe vergader wat die hart onder druk geplaas het.

“Volgens die pediater by die hospitaal kom die toestand oor ‘n baie lang tydperk,” sê Gawie.

Austin is oornag op medikasie gehou, waarna daar vroeg Donderdagoggend op sy hart geopereer is om die vog te dreineer. Gawie sê voor die operasie het dokters gereken Austin het ‘n 30% kans op oorlewing. Alle aanduidings is egter dat die operasie ‘n sukses was.

“Ek kan nie vir iemand wat nog nie in so ‘n situasie was verduidelik waardeur mens gaan nie. Dit is ‘n oorweldigende gevoel van magteloosheid, emosie en trane. Ek het nie gedink ek kan soveel huil nie,” sê Gawie.

Maar buiten die ondraaglike vrees dat jou kind dalk kan sterf, het die feit dat die Wasserman-egpaar nie oor ‘n mediese fonds beskik nie hulle ook baie hartseer veroorsaak.

“Dit is erg as jou kind daar lê en hulle sê vir jou hulle gaan hom nie help as jy nie betaal nie. Ek moes R13 000 neersit voordat hulle hom in die intensiewe eenheid wou opneem. Daarna moes ek R100 000 bymekaar skraap met soebat en smeek voordat hulle wou opereer,” sê Gawie. Voorlopige aanduidings is dat die totale rekening sowat R350 000 sal beloop.

“Vir ons bly die belangrikste egter dat ons ons kind terug het. Geen mens kan ‘n prys op die lewe van sy kind plaas nie. Ons sal die geld maar op een of ander manier bymekaar maak.”

Klein Austin sterk tans saam met ma Carine by familie in Pretoria aan, sodat hy naby die hospitaal kan wees. Hy is hierdie week Dinsdag ontslaan en volgens Gawie herstel hy vinnig.

“My seun is op die wenpad”. Hy noem egter dat Austin later in sy jong lewe weer ‘n hartoperasie sal moet ondergaan om skade wat reeds veroorsaak is verder te herstel namate hy groei.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines