ADVERTISEMENT:

 

Lede van die misdaadvoorkomings¬eenheid van die SAPD op Musina vertoon die gevaarlike messe, selfone en Zimbabwiese geldnote wat gevind is by ‘n vermeende lid van die guma-guma bende wat ‘n skrikbewind op verskeie plekke langs die Limpoporivier voer.

Polisie trek vermeende guma-guma-bendelid vas

 

News  Date: 18 July 2008

 

‘n Vermeende lid van die berugte guma-guma bende wat langs die Limpoporivier bedrywig is, is deur die SAPD op ‘n plaas naby Musina aangekeer.

Lede van die misdaadvoorkomings­eenheid van die SAPD op Musina het ‘n versameling gevaarlike messe, ‘n bondel geldnote en ‘n hele aantal selfone by die man gevind, nadat hulle verlede Vrydag gereageer het op ‘n oproep van ‘n boer op een van die grensplase, mnr. Pieter Durandt van die plaas Marimani. Die vermeende misdadiger, tesame met ‘n groot groep van sy vermeende slagoffers, is na die polisiestasie op Musina gebring. Die vermeende slagoffers word gedeporteer.

‘n Onwettige immigrant uit Zimbabwe, die 45-jarige Taurai Chabedi, het vandeesweek in die landdroshof op Musina verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Dit sluit verskeie messe, selfone, R1 020 kontant en meer as 20biljoen Zimbabwiese dollars in.

Die saak is uitgestel tot 23 Julie, hangende verdere ondersoek.

Ontwrigte inwoners van Zimbabwe, wat sonder dokumentasie oor die Limpoporivier na Suid-Afrika uitwyk, word gereeld deur die guma-gumas aangeval, aangerand en van hul waardevolle besittings en geld beroof. Verskeie Zimbabwiërs is al in dié aanvalle dood. Volgens Zimbabwiese vlugte­linge is wettige dokumentasie in hul land moeilik bekombaar en finansiëel buite die bereik van menige inwoner. Dit duur ook onrealisties lank om ‘n wettige paspoort te bekom.

Die guma-guma bedrywighede floreer op die wete dat slagoffers weerloos is, omdat hulle in Suid-Afrika as “onwettige immigrante” en dus as misdadigers beskou word en gevolglik nie hul toevlug tot die gereg kan neem nie, omdat hulle dan beslis gedeporteer sal word. Indien hulle wel ‘n saak sou aanmeld, voordat hulle gedeporteer word, bring dit mee dat hulle dan gereeld weer oor die grens moet terugkom vir die saak, wat bykans onmoontlik gemaak word deur die probleem met wettige dokumentasie.

 Daar is aanduidings van sindikaatvorming en samewerking tussen die bendes en individue wat voornemende vlugtelinge na die onwettige grens-oorsteekpunte begelei. Die “begeleiers” verskaf dan inligting aan die bendelede oor die tyd en die plek waar die grens oorgesteek gaan word en die moontlike “buit” wat beskikbaar sal wees. 

Internasionale druk neem toe om die Suid-Afrikaanse regering te probeer oorreed om die status van Zimbabwiese vlugtelinge te heroorweeg en om die duur en vrugtelose massadeportasie van Zimbabwiërs wat desperaat die voedselnood en algemene ellende in hul land probeer ontkom, te staak.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines