

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 July 2008
Die Makhado Munisipale Raad blyk ietwat bekommerd te wees rondom EDI (Electricity Distribution Industry) Holdings se voorgenome landswye herstrukturering van elektrisiteitsverskaffing. In effek beteken dit dat elektrisiteitsverskaffing binne die munisipale area oorgeneem sal word deur ‘n streeksverskaffer, oftewel RED 6 (Regional Electricity Distributor).
Die Raad het seker rede tot kommer, want elektrisiteitsvoorsiening is hul laaste groot inkomstegenererende bron, nadat watervoorsiening ‘n paar jaar gelede die verantwoordelik geword het van die Vhembe Distriksmunisipaliteit. Volgens munisipale dokumentasie is sowat 32% van die Raad se totale inkomste afkomstig van elektrisiteitsverskaffing, maar bronne binne die Raad meen hierdie persentasie is nader aan 75%.
Maar waarom hierdie herstrukturering? Die proses is deur die nasionale regering geïnisieer in ‘n poging om beter beheer toe te pas oor fondse wat uit elektrisiteitsverskaffing gegenereer word. Dit is in wetgewing vervat en sal binnekort ‘n realiteit word. Die idee is om een liggaam daar te stel met een prysstruktuur en seker te maak dat geld wat uit elektrisiteitsverskaffing geïn word, weer op elektrisiteitsverskaffing bestee word ten opsigte van byvoorbeeld instandhouding. Ten einde hierdie doel te bereik is die land in ses streke ingedeel met streeksverskaffers vir elke streek. Limpopo val binne die sesde streek.
In hierdie stadium bepaal munisipale rade nog waarvoor die geld uit elektrisiteitsverskaffing aangewend kan word. So kan dit gebeur dat ‘n munisipale raad hierdie geld kan aanwend vir onder meer die instandhouding van paaie, (salarisse?) en rioolstelsels. In die Makhado Munisipale Raad se geval, volgens betroubare inligting, word net sowat 1% van die totale jaarlikse inkomste uit elektrisiteitvoorsiening aan die elektrisiteitsnetwerk spandeer. Miskien verduidelik dit waarom die plaaslike Raad se R300 miljoen plus elektrisiteitsvoorsieningsnetwerk volgens ‘n amptelike munisipale verslag op die rand van ineenstorting staan vanweë erge verwaarlosing die afgelope tien jaar.
Genoemde verslag is op uitnodiging van EDI Holdings opgestel om aan munisipaliteite die kans te gee om hul bekommernisse oor die proses te opper sodat daar aandag aan gegee kan word voordat die proses verder gaan. EDI Holdings is die liggaam wat deur die nasionale regering aangestel is om die proses te hanteer. Die verslag het Donderdag voor die Raad tydens ‘n raadsvergadering.
Die verslag maak vir interessante leesstof.
In die verslag vra die Raad hoe hulle vir die verlies aan inkomste gevergoed gaan word? Buiten vir die moontlikheid van ‘n vennootskap tussen die Raad en RED 6, is daar ook sprake van ‘n ekstra heffing op elke elektrisiteitsaansluiting binne die munisipale area, hetsy elektrisiteit direk van Eskom aangekoop word of van die Raad afkomstig is. Dit is slegte nuus vir die verbruiker, want hierdie “ekstra” heffing sal buiten die verwagte 35% verhoging in elektrisiteitstariewe ook nog betaal moet word – alles net om die Raad se boeke te laat klop.
Ander aspekte wat in die verslag aandag geniet, het onder meer betrekking op die wyse waarop RED 6 probleme gaan aanspreek rondom die instandhouding van die bestaande netwerk wat agterweë gebly het. Volgens die verslag sal die Raad vir die volgende paar jaar jaarliks sowat R15 miljoen op die netwerk moet bestee, net om die agterstand ten opsigte van instandhouding in te haal. Kapasiteit blyk ook tans ‘n groot kopseer te wees vir die Raad en daar word ‘n astronomiese R35 miljoen benodig net om hul hoofsubstasie op te gradeer. Dan is daar ook nog die netelige kwessie van salarisse en wat van bestaande elektrisiteitspersoneel gaan word as RED 6 oorneem. Al hierdie knelpunte sal nog uitgeklaar moet word voordat die proses afgehandel kan word. Intussen kan inwoners maar hul ore oop hou aangesien hulle ook in ‘n stadium genader sal word om hul insette te lewer tydens ‘n proses van openbare deelname.
Om sake verder vir die Raad moeilik te maak, is daar ‘n toenemende openbare persepsie dat die regering se nuwe “waardasierol”-proses ‘n direkte poging is om aan munisipaliteite ‘n inkomste te verseker wanneer elektrisieitsverskaffing van hul af weggeneem word. Samesweringsteorie of realiteit? Een ding blyk egter seker te wees, die Makhado Munisipaliteit sal ernstig moet kyk na ‘n alternatiewe bron van inkomste indien hulle wil voortgaan om hul massiewe salarisrekening te betaal. Hul begrote salarisrekening vir die 2008/9 boekjaar beloop oor die R131 miljoen oftewel amper 39% van hul totale operasionele begroting. So gepraat van die Raad se begroting. In die raadsagenda van Donderdagaand word daar ook genoem dat daar ‘n net oor die R6 miljoen tekort was ten opsigte van die Raad se geprojekteerde inkomste teenoor hul uitgawes vir die komende boekjaar. Hulle het derhalwe hul uitgawes met R6 206 482 gesny om die begroting te laat klop. Waarop het hulle besnoei? Hoofsaaklik op amptenare se oortyd (R3 408 019) en reistoelae (R2 398 463). Op salarisse is daar maar net R200 000 besnoei. Dit is duidelik dat daar hierdie jaar maar min oortyd gewerk en rondgekerjakker gaan word.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
