

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 July 2008
Dit gaan baie goed met klein Austin Wasserman. Hy is tuis en “eet ons uit die huis uit,” sê pa Gawie.
Inwoners het in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger gelees van die 16-maande-oue klein Austin wat op 10 Julie ‘n operasie op die hart moes ondergaan om sy lewe te red. Die hartseer van twee jong ouers wat byna hul kind verloor het, is verder vererger deur die feit dat hulle nie ‘n mediese fonds het nie en in daardie stadium is pa Gawie en ma Carine meegedeel dat die totale koste van die operasie bykans R350 000 sal beloop. Pa Gawie moes klaar R13 000 uithaal vir Austin se opname in die intensiewe eenheid van die Unitas Hospitaal in Centurion, asook ‘n verdere R100 000 deposito voordat die dokters wou opereer.
Ná die berig in die koerant verskyn het, het die Zoutpansberger verskeie oproepe ontvang van mense wat graag ‘n bydrae wil maak om die Wassermans te help met die betaal van die mediese kostes. In daardie stadium was dinge maar nog baie deurmekaar en daar was nog nie amptelik ‘n hulpfonds beskikbaar nie.
“Dit lyk darem of die dokters ons begenadig is,” het Gawie Dinsdag gesê. Dit wil voorkom asof die operasie darem nie R350 000 gaan kos nie. Die voorlopige rekening wat hulle vanaf die dokters ontvang het beloop sowat R134 000, maar die narkotiseur se kostes en ‘n paar ander rekeninge is nog uitstaande. Hoe dit ookal sy, die Wassermans gaan steeds geld nodig hê om die kostes te help delg.
Intussen het Ladies Circle 4 van Louis Trichardt, asook die plaaslike Rotary Anns, hulle oor die Wassermans ontferm. Beide diensorganisasies het hul bankbesonderhede beskikbaar gestel vir mense om donasies te maak. Geld wat in hierdie rekeninge inbetaal word, word deur die organisasies self geadministreer en hulle betaal direk die dokters by ontvangs van rekeninge
Die bankbesonderhede vir Ladies Circle 4 is Eerste Nasionale Bank in die naam van Ladies Circle 4, takkode 260149, rekeningnommer 52860029358. Die verwysing is “Austin” en inbetalingstrokies moet gefaks word na 086 681 5918 om beheer te vergemaklik.
Geld kan ook in die Rotary Ann Community Fund inbetaal word in Standard Bank spaarrekeningnommer 133 239 071. Buiten hiervoor beplan die plaaslike Rotary Anns ook ‘n Lentedans op 6 September in Hoërskool Louis Trichardt se skoolsaal ter fondsinsameling vir hul gemeenskapsprojekte en van die inkomste sal in bogenoemde gemeenskapsfonds inbetaal word. Kaartjies kos R120 p.p. en is beskikbaar by alle Rotary Anns.
Vir meer inligting oor die Anns se fonds, skakel André Gilfillan by 083 272 9151, Gawie by 083 257 3056 of Jana by 082 895 9034.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
