ADVERTISEMENT:

 

ELSJE

Boervrou (76) oorleef aanval op Levubu

 

News  Date: 01 August 2008

 

Misdaad in Suid-Afrika, en veral geweldsmisdaad, is ‘n wrede werklikheid en terwyl mens daagliks in die pers met hierdie nare realiteit gebombardeer word, vind baie toevlug in die hoop en bede dat “dit net nie met my moet gebeur nie”.

So het die Mulder-familie van Levubu ook sekerlik aan hierdie hoop vasgeklou, maar op Donderdagaand, 24 Julie, het misdaad in brutale vorm ook aan hulle deur kom klop. Dit was die aand toe die 76-jarige tannie Elsje Mulder in haar plaaswoning naby sentraal Levubu deur drie gewapende aanvallers oorrompel is. Die Mulders is van die pioniersfamilies op Levubu en van die eerste gesinne wat daar gevestig het. Tannie Elsje het na haar man se dood sowat 13 jaar gelede, alleen op die plaas agtergebly. Haar seun, Johan, en dogter en dié se man, Pieter en Elsabé Coetzee, boer ook steeds daar.

Elsabé het vandeesweek van haar ma, wat vir eers by hulle tuisgaan, se ontbering vertel. Sy sê dit gaan onder omstandighede goed, alhoewel die emosionele letsels van verlede Donderdagaand begin wys. Andersins is tannie Elsje mobiel en loop sy weer in die huis rond.

Tannie Elsje is omstreeks 19:30 in haar huis deur die groep gewapende rowers oorval, nadat sy ‘n buite-veiligheidshek gaan oopsluit het om haar klein huishondjie, wat vreeslik geblaf het, te laat inkom. Haar hande is voor haar vasgebind en nadat die mans uiteindelik gevlug het, het sy tot ongeveer twee uur die volgende oggend gespook om haarself te bevry en hulp te ontbied. Sy is in die privaathospitaal op Louis Trichardt opgeneem waar sy vir erge kneusplekke oor haar hele lyf behandel is, insluitend ‘n gebreekte neus en ‘n 8cm sny aan die kop.

“Soos wat sy stukkie-stukkie onthou, lyk dit nie of hulle haar vreeslik geslaan het nie,” sê Elsabé. Die aanvallers het haar ma wel vreeslik rondgestamp, op die vloer gegooi en hardhandig hanteer.

Dit is klaarblyklik die hoofoorsaak van die beserings.

Weinig is tydens die aanval gesteel, alhoewel die rowers erge verwoesting in die huis gesaai het. Na die tyd het dit aan die lig gekom dat sou tannie Elsje nie die deur oopgesluit het nie, die rowers haar heel waarskynlik in elk geval in die huis sou oorval het. Daar is gemerk dat diefwering voor een van die vensters gedeeltelik klaar afgesny was.

In hierdie stadium is daar nog geen aanduiding of enige iemand al in verband met die aanval aangekeer is nie. Teen druktyd het die koerant ook steeds gewag op ‘n polisieverklaring oor die aanval.

Wat betref die verdagtes sê Elsabé dat dinge maar deurmekaar is, want die polisie se kommunikasie is nie baie goed nie.

“Hulle wil nie vir ons inligting gee nie. Dan gesels hulle met my broer en dan hoor ons weer iets waarvan hy nie weet nie.” Sy sê sover sy weet is vyf verdagtes aangekeer, waaronder drie plaaswerkers en twee Zimbabwiërs. Die drie plaaswerkers is egter weer terug by die werk, nadat hulle klaarblyklik klaar ondervra is.

“Ons weet nie eintlik wat aangaan nie,” sê Elsabé.

Oor haar ma Elsje se toekoms sê Elsabé dat hulle nou oorweeg om haar ma in ‘n ouetehuis te sit, maar dit is maar ‘n moeilik besluit. Haar ma is baie lief vir die plaas. Nie net is dit haar huis nie, maar ook die huis waarin sy en haar man se kinders in grootgeword het.

“My ma het baie sentiment aan die plaas. Dit is hoekom sy nooit wou trek nie,” sê Elsabé.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines