

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 August 2008
Klein Nathan Puth, net ses weke oud, veg elke dag hard, terwyl hy gedra word deur die volhardende gebede van vele.
Die medici van die Unitas Hospitaal in Pretoria het Vrydag vir Nathan nog net twee dae gegee om te lewe en masjiene ontkoppel en medikasie gestaak. Ten spyte daarvan bly sy ouers, Martin en Marlien Puth van Louis Trichardt, positief.
“Ons glo en vertrou met ons hele hart dat die Here Nathan aangeraak het,” het Marlien Maandagmiddag gesê. Maandagaand laat het die Puths gesê dat die dokter die middag ná Nathan se hartsonar gesê het dat daar nie ‘n verklaring is waarom hy beter lyk nie.
Nathan is op 17 Junie in die Limpopo Medi-Kliniek in Polokwane gebore. Hy is die eerste kleinding van pa Martin, wat sy eie konstruksie opmeting onderneming op Louis Trichardt het, en ma Marlien, wat by SP Builders werk.
Die mannetjie, wat ‘n stewige 4.366kg by geboorte geweeg het, is dadelik in die Neo-Natale Intensiewe sorgeenheid opgeneem omdat sy bloedgasvlakke te laag was.
Sedert 23 Junie is Nathan in Unitas, waar hy gediagnoseer is met “transposisie van die groot vate en hartversaking, nierversaking, kongenitale hidronephrase en probleme met post- urinale kleppe”. Dit beteken dat daar nie suurstofryke bloed na sy liggaam gevoer word nie. Die gaatjie tussen twee van die hartkamers is deur ‘n kateter groter gemaak sodat daar vermenging van suurstofryke bloed en suurstofarm bloed kan wees sodat die res van die liggaam kon bloed kry.
Intussen het skandering gewys dat daar geen fout met die niere en blaas is nie en Nathan het moedersmelk deur ‘n botteltjie asook ‘n neuspypie ingeneem.
Nathan is op 16 Julie geopereer, die sogenaamde blou baba (BT Shunt) operasie en daar was sprake daarvan dat Nathan vir die eerste keer sou kon huis toe gaan om daar aan te sterk vir ‘n hartoperasie.
Martin en Marlien vertel: “Op Vrydag, 25 Julie, het ons seker die ergste nuus sover gekry. Die dokter het vir ons verduidelik dat die regterventrikel van Nathan se hartjie seergekry het en nie meer bloed pomp nie. Volgens haar was daar niks meer wat hulle vir hom kon doen nie en is die medisyne gestop wat die hart nog gehelp het om te werk, aangesien hy nie vir die res van sy lewe op die medisyne sal kan wees nie. Hulle het vir ons gesê hulle gee hom twee dae om te leef. Sy hart en lewer was erg geswel, sy maag was kliphard en hy het baie gesukkel om asem te haal en was baie blou. Hy het ook nie veel geürineer nie as gevolg van die hartversaking. Die saturasievlakke in sy bloed (persentasie suurstof in sy bloed), wat normaalweg in die 90’s is, was partykeer sommer 24. Dit was vreeslik erg om hom so te sien. As jy hom vasgehou het, het hy sy koppie agteroor gedruk en deur sy mond asemgehaal; mens kon sien hy kry baie swaar. En al die susters het hulle meegevoel kom betuig. Ons het bly glo en bly bid saam met almal dat God ‘n volmaakte wonderwerk sal doen.”
Saterdagnag het oupa en ouma Kruger by Nathan gewaak en gebid sodat Martin en Marlien kon rus. Deur die nag het die suurstof saturasievlakke in Nathan se bloed van 30 na 50 gestyg en Sondag na meer as 80. Maandagaand was dit by tye oor 90.
Na afloop van die hartsonar het die dokter gesê dat die hart en lewer minder geswel is en dat die regterventrikel van die hart al beter werk as Vrydag, maar dit kan nog beter. Sy het gesê dat die lewenstekens goed lyk.
“Ons prys God, want selfs deur die donkerste nag gee Hy lig. Daar is geen god soos ons Here nie, en Sy planne vir ons is goed. Al gebeur wat, Hy is die enigste God wat ‘n mens kan deurdra,” sê Martin en Marlien.
Die Puths bedank pastoor Stefan Pieterse van die Volle Evangelie Kerk wat al ‘n paar maal deurgery het Pretoria toe om hulle te ondersteun. Hulle bedank oupa en ouma Kruger en oupa en ouma Puth, ook vir tannie Lettie Slater en Yolanda Slater en al die ander wat so getrou bid en hulle bemoedig met sms’e en oproepe. Johan Nothnagel word ook bedank dat hy na hulle huis omsien.Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
