ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Awie Schlesinger (69).

Kleurvolle oom Awie oorlede

 

News  Date: 01 August 2008

 

Een van die Soutpansberg se mees kleurvolle karakters, oom Awie Schlesinger, is gedurende die vroeë oggendure van Maandag, 28 Julie, in die ouderdom van 69 jaar oorlede.

Daar is min van die streek se boorlinge wat nie vir oom Awie geken het nie en baie sal hom onthou as die man wat betekenis gegee het aan die woord “langplaas” as dit gekom het by jag. Oom Awie kon skiet, veral in die nag, en so sê vriende en familie is daar baie staaltjies wat van oom Awie en sy “jagtogte” vertel kan word.

Oom Awie is oorlede net bietjie meer as ‘n maand nadat hy sy vrou, tannie Hankie, aan die dood moes afstaan. Hy het aan keelkanker gely. Tot tannie Hankie se dood op 21 Junie was hulle inwoners van Laat Lente, maar kort daarna is hy in Ons Tuiste se siekeboeg opgeneem waar hy hierdie week gesterf het.

Oom Awie was in murg en been ‘n kind van die Soutpansberg. Hy is hier gebore en het ook sy skoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi. Vroeër jare het hy by die munisipaliteit se eie kragstasie gewerk. Hy het vir ‘n paar jaar die dorp verlaat en as provinsiale inspekteur onder meer in die destydse Pietersburg en Middelburg diens gedoen. Hy het egter weer teruggekeer Louis Trichardt toe as lid van die verkeersafdeling. Later jare was hy ook betrokke by ‘n paar slaghuise op die dorp.

So bekend as wat oom Awie was vir sy jageskapades, het hy die laaste paar jaar van sy lewe ‘n ontsettende liefde ontwikkel vir die veld en wildbewaring. Baie sal nog onthou hoe oom Awie pannekoek gebak en verkoop het om geld in te samel, sodat hy so een maal elke drie maande wildtuin toe kon gaan vir ’n paar dae.

Kennisse, vriende en familie sal Donderdag, 31 Julie, ‘n laaste eerbetoon aan oom Awie kan wys tydens sy begrafnisdiens. Die diens begin om 11:00 in die AP Kerk op Louis Trichardt. Hy word oorleef deur sy dogter, Madeline, en tweeling kleinkinders Fritz en Anita.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines