

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 August 2008
Om gearresteer te word is nie iets waaraan enige wetsgehoorsame burger graag dink nie. Indien iemand onregmatig gearresteer word en daardie persoon is boonop minderjarig, maak dit die prentjie al hoe minder rooskleurig. Dit was onlangs die lot van ‘n dertienjarige inwoner van die dorp nadat hy na bewering vervalste geld gebruik het om lugtyd by ‘n plaaslike vulstasie se kiosk te probeer koop.
Volgens die seun se oupa het hy Vrydag lone getrek by ‘n handelsbank op die dorp. Al die lone word in kontant opgemaak en in koeverte geplaas, sodat elke werker se loon afsonderlik uitgedeel kan word. Die eienaar van die onderneming se eie salaris word ook so opgemaak. Hy het toe van die kontant uit sy koevert geneem en vir sy kleinseun ‘n R100-noot gegee om lugtyd te gaan koop by die vulstasie oorkant die pad se kiosk. Daar aangekom, het die seun vir die lugtyd gevra en die noot aan die kassier oorhandig. Die bestuurder van die kiosk het klaarblyklik daar gestaan en na bewering gesien dat die noot nie ‘n watermerk het nie.
Die man het toe die seun aan die skouer gevat en hom beveel om saam te kom. By die petrolpomp was ‘n polisieman in uniform wat besig was om petrol in te gooi. Die bestuurder het die seun na hom gebring en hom beveel om die kind te arresteer, aangesien laasgenoemde in besit van vervalste geld was. Sonder om te huiwer het die polisieman die kind geboei en agter in die vangwa gelaai. Nie die bestuurder of die polisieman wou hom die geleentheid gee om sy grootouers of ouers te kontak nie en was ook nie bereid om na sy verduideliking te luister van hoe die geld in sy besit gekom het nie. Volgens die polisieman het die kind nie vir hom minderjarig voorgekom nie en het hy hom as volwassene hanteer.
By die polisiestasie is die kind toegelaat om sy grootouers te skakel, waarna hulle daarheen gegaan het en ‘n verklaring afgelê het. Die kind is toe vrygelaat. Die oupa het toe met die bank in verbinding getree om te probeer uitvind hoe dit gebeur het dat vervalste geld tussen die lone beland het. Die persoon in beheer het aangedui dat banke alles in hulle vermoë doen om sulke gevalle te beperk deur die note almal te skandeer, maar dit gebeur nog van tyd tot tyd dat vervalste note deurglip. Sy wou die R100-noot terug hê, maar die polisie het geweier om dit aan die oupa te oorhandig.
Die kind het die voorval as baie traumaties ervaar en sal waarskynlik berading moet ontvang, veral aangesien hy soos ‘n misdadiger behandel is en sy regte geskend is in die proses. Volgens sy grootouers gaan hulle beslis die saak opvolg en ‘n siviele eis teen die polisie instel. Hulle het gevra dat enige lid van die publiek wat die voorval waargeneem het asseblief met hulle in verbinding moet tree by tel. 0728583741. Dit is egter nou nog nie duidelik of die noot wel ‘n watermerk gehad het al dan nie.
ADVERTISEMENT:
