ADVERTISEMENT:

 

Is daar lig aan die einde van die tonnel?

 

News  Date: 08 August 2008

 

Daar is die afgelope paar maande al baie geskryf en gesê oor die benarde toestand van Louis Trichardt se rioolstelsel, watervoorsienings- en elektrisiteitsnetwerk.

Dit is geen geheim dat hierdie stelsels op die rand van totale ineenstorting is nie en voorbeelde hiervan is legio. Dink maar net aan die feitlik daaglikse riooloorstromings, kragonderbrekings en kroniese watertekorte. Vroeër vanjaar het die haglike toestand van die setsels die Makhado Munisipaliteit genoop om ‘n tydelike moratorium te plaas om enige vorm van verdere verdigting. Vir organisasies soos die Soutpansberg Belasting­betalersvereninging (SBBV) was dit ‘n oorwinning. Geen wonder dat die munisipaliteit se besluit voorverlede week om weer die moratorium op te hef vir die SBBV as ‘n ontnugtering gekom het nie, want, meen hulle, die situasie het nog geensins verbeter nie.

Die munisipaliteit se besluit om die moratorium op te hef het ook reaksie van die Demokratiese Alliansie se plaaslike raadslid, mnr. Jacques Smalle, ontlok.

Smalle sê die ANC-raad het klaarblyklik vergeet het dat hulle op 15 Februarie vanjaar besluit het (met die inwerkingstelling van die tydelike moratorium) dat ‘n meesterplan eers opgetrek moes word om die tekortkominge in hul infrastruktuur aan te spreek. Die moratorium is opgehef sonder enige tasbare bewys van die bestaan van so ‘n meesterplan.

So, is daar lig aan die einde van die tonnel en kan inwoners uitsien na ‘n verbetering ten opsigte van die munisi­pale infrastruktuur?

Agter die skerms blyk dit dat daar hard gewerk word, minstens ten opsigte van die opgradering en herstel van die riool- en watervoorsieningsnet­werk.

Verlede week is kleppe vervang by al vyf pompstasies vanaf die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam wat water voorsien aan die dorp se drie waterreservoirs. Vloeimeters is ook aangebring en volgens mnr. Henk de Swardt van Belta Services, die kontrakteur verantwoordelik vir die herstelwerk, pomp hulle tans sowat 100 liter drinkwater per sekonde. Dit is nie ideaal nie, maar hy sê egter dat hulle dit gaan opstoot na tussen 130 en 140 liter per sekonde. ‘n Week voor dit het die munisipaliteit reeds begin om tussen 19:00 en 04:00 die dorp se reservoirs toe te draai om kapasiteit op te bou vir die totale afskakeling van die stelsel vir herstelwerk op 30 en 31 Julie. Inwoners in hoërliggende dele van die dorp ervaar egter steeds in die aande watertekorte. Die rede hiervoor is dat die reservoirs steeds in die aande toegedraai word, dié keer om kapasiteit op te bou vir wanneer die sand by die Albasini-suiweringsaanleg vanaf hierdie Donderdag vervang word. Volgens De Swardt sal die nuwe sand die dorp se waterkwaliteit heelwat verbeter. As alles volgens plan verloop, sê De Swardt, sal herstelwerk aan die watervoorsieningsnet­werk teen einde Augustus afgehandel te wees.

Wat herstel– en opgraderingswerk aan die dorp se rioolstelsel betref, is dat maar by die beste van tye ‘n opdraande stryd vir De Swardt. Hul werk word verder bemoeilik deur kroniese koperdraad­diefstalle, soos die afgelope week by die rioolaanleg en rioolpompstasie by die maksimum sekuriteitsgevangenis. Die goeie nuus is egter dat die gereelde riooloorstroming by SAB se verpreidingsdepot in die industriële gebied dalk binnekort iets van die verlede kan wees. De Swardt sê die putte wat riool opgaar by die betrokke rioolpompstasie op die hoek van Byles- en Industriastraat intussen met drie meter verdiep is. Opgraderingswerk behoort, volgens hom, hierdie week afgehandel te word. Ongelukkig moes hulle tydens die herstelwerk die riool, hoofsaaklik vanaf die maksimum sekuriteitsgevangenis, in ‘n aangrensende vlei laat vloei, maar sê De Swardt: “Die water wat van die tronk af kom is redelik skoon. Hulle riool/waterverhouding is 1 op ‘n 100, wat relatiefwe skoon water is.”

Die opgradering van die tronk se rioolpompstasie is volgende op die beplanning, maar dan sê De Swardt gaan hulle pompe insit om die riool steeds weg te pomp terwyl hulle werk. Volgens De Swardt is hulle ook besig met herstel- en opgraderingswerk by die omstrede rioolpompstasie in Eltivillas. Die proses behels onder meer dat hulle ook die vleiland wat weens die riooloorstroming daar ontstaan het, weer gaan drooglê. Nuwe pompe is ook reeds by die rioolpompstasie in Alwynstraat ingesit. Die uiteindelike toerusting van die rioolpompstasie in Vleistraat (wat tot op hede nog ‘n leë dop is) sal klaarblyklik ook binnekort plaasvind. Wat die rioolsuiweringsaanleg betref, het De Swardt gesê dat hulle teen verlede week reeds twee pompstasie oorgedoen het.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines