ADVERTISEMENT:

 

Hou moed, al is jou rekening hoog

 

News  Date: 08 August 2008

 

As jou Makhado Munisipale kragrekening vandeesmaand met ‘n Zim-sprong van ‘n paar duisend na ‘n paar miljoen rand opskiet, hou moed, dis waarskynlik ‘n onbedoelde fout. Die munisipale departement finansies sal dit graag vir jou regstel.

In die plaaslike herstruktureringsproses, wat genoodsaak is deur die nasionale kragvoorsiener se jongste kragtariefverhoging, sal foute insluip wat hier en daar dalk ongerief kan veroorsaak, sê die Makhado Munisipaliteit se skakelbeampte, mnr. Louis Bobodi.

Hy is gevra om kommentaar te lewer op uiteenlopende klagtes van buitensporige kragrekenings en ‘n algemene verhoging in basiese tariewe op die jongste munisipale rekenings.

Uit Levubu word berig dat ‘n private gebruiker wat normaalweg sowat R2 000 per maand betaal, ‘n rekening vir R58 000 ontvang het. ‘n Ander huishouding wat gemiddeld R5 000 per maand vir elektrisiteit betaal, het die afgelope maand ‘n rekening vir R84 000 ontvang. ‘n Onderneming wat gemiddeld R8 000 per maand betaal, se jongste rekening beloop ‘n astronomiese R3,4miljoen. Daar is ook ‘n verhoging in eenheidskoste en in lynfooie.

Inwoners van Louis Trichardt het deur die bank te make met verhoogde basiese fooie.

Bobodi sê dit is die normale jaarlikse verhogings, wat amptelik per advertensie in die media aangekondig is ten tye van die jaarlikse munisipale begroting.

Hy sê diegene wat opvallend buitensporige rekenings ontvang het, moet die munisipaliteit se finansiële afdeling nader om dié foute wat per ongeluk in die stelsel ingeglip het, reg te stel.

Gaan u munisipale rekenings noukeurig na, omdat daar blykbaar ‘n oorverhaling van tariewe is.

Intussen het mnr. Herman Smith, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, inwoners versoek om hul maandelikse munisipale rekenings na te gaan.

“Dit wil blyk dat die nuwe tariewe verhaal word vanaf die datum waarop die lesings geneem is, in plaas van die eerste dag waarop die munisipale begroting ‘n aanvang geneem het, naamlik 1 Julie 2008,” sê Smith.

Hy sê in een geval is die lesing geneem op die 12de Junie, dit wil sê 12 werksdae voor die begin van die finansiële jaar, wat beteken dat vir dié periode ook teen die nuwe tariewe verhaal is.

“Dit kan maar net ‘n foutjie wees, maar dit gaan u geld kos en indien al die rekenings foutief is, kan dit die belastingbetalers duisende rande kos,” sê Smith.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines