

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 August 2008
In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger het die Makhado Munisipaliteit gesê hulle is bekommerd oor die voortdurende probleem van koperdraaddiefstal en skade aan hul infrastruktuur. Hulle kyk klaarblyklik nou ernstig na maniere om hul infrastruktuur te beveilig, maar wat hierdie “planne” van hulle behels is nie seker nie en hulle wil ook nie veel daaroor sê nie.
Maar wat die munisipaliteit ookal beplan, sal hulle moet gou doen, veral gesien in die lig van ‘n hernude vlaag van koperkabeldiefstalle die afgelope week.
Almal kla as daar nie water is nie of wanneer riool oral uitborrel, maar wat maak jy as booswigte amper dag na dag die koperkabels steel wat die pompe aandryf wat water moet voorsien en riool moet wegpomp. Verlede Maandag is die dorp se rioolaanleg tot stilstand gedwing, nadat booswigte van die elektriese kabels daar gesteel het. Skaars was hierdie probleem opgelos, toe steel hulle die Donderdagaand ook die koperkabels by die maksimum sekuriteitsgevangenis se rioolpompstasie. In beide gevalle is die opgraderingsproses van die dorp se rioolnetwerk erg gekortwiek.
Vroeg Dinsdagoggend het die koerant se drukkery in Jeppestraat ook weer deurgeloop, nadat die twee 50mm koperkabels (wat die 315kVA transformator wat die perseel van elektrisiteit voorsien) vir die tweede keer in a maand gesteel is. Die booswigte het dood rustig met ‘n bakkie tot teenaan die kragpaal teruggestoot, die krag ontkoppel, die kabel afgesny, gelaai en gery.
Dit is egter nie net koperkabel wat gesteel word nie. Berig is ook ontvang dat meer as ‘n honderd gewone geelkoper tuinkrane oor die naweek by wonings en sakepersele in Eltivillas gesteel is. Inwoners kan hulself ook ‘n guns doen en gaan kyk hoeveel van die brandkrane in Louis Trichardt het nog die geelkoper “pick-up links” aan hulle waaraan brandslange gekoppel moet word in geval van ‘n brand. In die onderdorp het feitlik geen brandkraan meer hierdie koppelstuk aan nie.
Munisipale amptenare, wat telkens die skade moet gaan herstel, sit al op moedverloor se vlakte. Amptenaar Louw Pretorius meen die mark vir die gesteelde koper is plaaslik. Hy het nie doekies omgedraai oor hoe hy oor die diefstalle voel nie.
“As ek die ou kry wat hierdie koper koop gaan ek hom opkerf. Daai ou het nie ‘n idee van watter skade hy regtig berokken nie,” sê Pretorius. Herstelwerk aan beskadigde infrastruktuur beloop jaarliks honderde duisende rande en dit is buiten die finansiële verliese wat sake-ondernemings lei wanneer produksie tot stilstand gedwing word.
Dit is duidelik dat inwoners se geduld reeds lankal op is met mense wat voortgaan om ‘n mark te skep vir gesteelde koperdraad. Daar is ‘n algemene gevoel dat, indien iemand weet wie hierdie koper aankoop, hulle moet ophou om hul “maatjies” te beskerm ten gunste van ‘n vinnige paar rand, maar ten koste van ‘n hele gemeenskap se belange.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
