

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 August 2008
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het die afgelope week nie net sy hartseer en medelye uitgespreek teenoor die gesin en familie van wyle mnr. Ross Thom van Alldays nie, maar ook hulde gebring aan die man wat ook as Meneer Alldays bekendgestaan het. Hy is op 27 Julie in die ouderdom van 79 jaar oorlede.
Oom Ross Thom was in lewe voorwaar ‘n steunpilaar van die Alldays-gemeenskap. In 1947 verwerf hy ‘n BSc Landbougraad by die Universiteit van Pretoria. Volgens mnr. Tertius Theron, voorheen die Hoof Uitvoerende Beampte by die Streekdiensteraad (SDR) en later ook streekbestuurder van TLU SA Noord, was oom Ross bekend as ‘n sterk intellektuele persoonlikheid wat besonder hard gewerk het. Oom Ross was een van die Raadslede by die SDR en hy het baie hard baklei om fondse vir die Alldays-gemeenskap te beding. Hy was dan ook verantwoordelik vir die oprigting van die Alldays Gemeenskapsaal en die Alldays veilingskrale. Theron het gesê oom Roos was ‘n nederige persoon wat nie gehuiwer het om die gemeenskap ten volle te dien nie.
Wat georganiseerde landbou betref, het ook Ross ook daar sy alles gegee. Joubert het gesê oom Ross het in 1960 by die landbou-unie aangesluit het en vanaf 1968 tot 2004 was hy die voorsitter van die Alldays Boerevereniging - ‘n tydperk van 37 jaar en ‘n rekord wat nog deur niemand gebreek is nie. Hy was ook vanaf 1968 tot 1988 voorsitter van die Algemene Sakekomitee van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie (DLU).
Mev. Wiekie Nel, sekretaresse van die Soutpansberg DLU, het vertel dat wyle mnr. Jack Botes eenkeer aan haar vertel het dat as oom Ross voor sy deur gestaan het, het sy moed in sy skoene gesak, want hy het geweet dat oom Ross nie sal loop voordat hy gekry het waarvoor hy gekom het nie. So was daar een keer noodhulptoerusting beskikbaar en oom Ross het daarop aangedring dat Alldays ´n volledige toegeruste noodhulpwaentjie kry, waar daar slegs noodhulp sakke aan die ander gebiede gegee is.
Oom Ross is Vrydag, 1 Augustus, vanuit die N.G. Kerk op Alldays begrawe.

ADVERTISEMENT:
