

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2008
“A horse! a horse! my kingdom for a horse!” Hierdie woorde word geuiter deur Koning Richard in Shakespeare se Richard III. Inwoners van Louis Trichardt kan beslis identifiseer met sy nood, maar eerder in terme van water. Menige inwoner was sekerlik al bereid om baie op te offer om net weer water uit die kraan te sien kom.
Vir die afgelope twee weke het die Zoutpansberger berig oor die herstelwerk wat aan die dorp se watervoorsieningsisteem gedoen word, hoofsaaklik aan die toevoer vanaf die Albasinidam. Belta Services, onder leiding van Mnr Henk de Swardt, staan aan die hoof van die herstelwerk. Die aanvanklike plan was dat die herstelwerk deeltyds gedoen sou word, met die reservoirs wat tot so ‘n mate van water voorsien sou word dat dit nie gedurende die hersteltydperk ‘n probleem sou skep nie. Dinge het egter nie so uitgewerk nie en die hele sisteem het tot stilstand gekom, nadat daar probleme ondervind is met die verskaffer van die chemikalieë. Slegs ‘n derde van die normale kapasiteit is gelewer die laaste paar dae, wat hopeloos ontoereikend is vir die dorp se verbruik. Daarby is ‘n aantal van die boorgate wat normaalweg ingespan word om te help met watervoorsiening nou droog – iets wat lankal verwag is.
Klaarblyklik lê die probleem by die feit dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) die watervoorsieningsfunksie oorgeneem het, sonder dat die instansie verantwoordelik vir die aankoop van die chemikalieë geïdentifiseer is. Tussen VDM en die Makhado Munisipaliteit is die chemikalieë nooit bestel nie. Die gevolg was dat die aanvanklike plan laat vaar moes word en daar toe vir 36 uur ononderbroke gewerk is om die pompe se filtrasiesand te vervang. Sowat 60 ton sand en 12 ton antrasiet moes in dié tydperk verwyder en vervang word – geen maklike of vinnige taak nie, aangesien dit deur middel van handearbeid gedoen word. Die sisteem het dus tussen 12 en 16 ure langer gestaan as wat beplan is.
Die geluk by die ongeluk is dat die werk nou vinniger afgehandel is en, indien alles volgens plan verloop, sal die gemiddelde vlak van die reservoirs nou tussen 50 en 60% wees, vergeleke met die gemiddelde vlak van 30-40% in die verlede. Soos in die verlede berig, is dit egter nie nou net so maklik soos om die toevoer weer aan te skakel en dan loop die hele spulletjie weer nie. Die druk moet gereguleer word sodat pype nie bars nie en die reservoirs moet eers vol loop voordat die water weer by die huis se kraan uitloop. Teen saktyd was dit nog nie bekend presies wanneer die situasie na “normaal” sou terugkeer nie.
ADVERTISEMENT:
