ADVERTISEMENT:

 

Pastore Forster Kwangari (links) en Simon Sithole (regs) by me. Talent Tsekera, ‘n enkelma en haar baba Brighton. (Talle verwagtende moeders kom uit Zimbabwe na Musina vir hul bevalling, omdat behoorlike mediese sorg nie in hul vaderland beskikbaar is nie). Bewoners van ‘n plakkershut in Musina se Campbell woonbuurt het hulle oor dié ma ontferm.

Gemeentes reik uit na Zimbabwiërs in nood

 

News  Date: 15 August 2008

 

Meer as 200 politieke vlugtelinge uit Zimbabwe is die afgelope naweek in ‘n kerkgebou op Musina versorg. Talle ander vlugtelinge, insluitend vroue met klein babatjies, skuil in die bosse langs die armste woonbuurtes by die dorp, uit vrees dat hulle deur die Suid-Afrikaanse owerhede teruggedwing gaan word na onleefbare omstandighede in hul land van oorsprong. ‘n Predikant uit Zimbabwe het op die dorp aangekom om sy landgenote te help versorg.

Die Anglikaanse gemeente in Nancefield het hul kerkgebou beskikbaar gestel vir die versorging van die groot getal daklose vlugtelinge op Musina. Ander gemeentes help met die praktiese versorging. Twee geestelike leiers, pastore Forster Kwangwari (van Zimbabwe) en Simon Sithole van die Concern Zimbabwe-projek, is voltyds besig met die insameling van die nodige middele, die uitdeel van noodvoorrade en die bemoediging van vlugtelinge by die kerk sowel as in die bosse op die dorpsmeent langs die armste woonbuurtes op die dorp. 

 Private instansies en individue op Musina onderneem toenemende hulpverlening aan die vlugtelinge, te midde van die teenwoordigheid van verskeie internasionale organisasies wat gerat is om met massa noodleniging te begin, sodra die Suid-Afrikaanse regering amptelik erken dat die nood werklik krisis-omvang bereik het. ‘n Omvattende gebeurlikheidsplan vir die ordelike hantering van ‘n groot intog van vlugtelinge uit Zimbabwe is reeds vir ‘n geruime tyd gereed gestel onder die leiding van die Verenigde Nasies (VN) se Kommissaris van Menseregte. Die Internasionale Rooi Kruis het ook nou ‘n kantoor op die dorp gevestig, terwyl die humanitêre organisasie Save The Children reeds ‘n geruime tyd bedrywig is met hulpverlening aan die groot getal onbegeleide kinders wat vanuit Zimbabwe op die dorp aankom. Die organisasie verleen ook hulp aan kinders wat deur die Suid-Afrikaanse regering teruggedwing word na die omstandighede waaruit hulle desperaat wegvlug.

 Die deportasie van Zimbabwiërs deur die Suid-Afrikaanse regering duur voort. Plaaslike kundiges op die gebied van menseregte en internasionale reg is dit eens dat die summiere deportasie van mense na ‘n land waar politieke vervolging en skending van menseregte aan die orde van die dag is, strydig is met universele beginsels van die internasionale reg.

‘n Verteenwoordiger van Lawyers for Human Rights in Suid-Afrika, mnr. David Cote, het die Zoutpansberger by navraag meegedeel dat dit ‘n universeel-aanvaarde beginsel in die internasionale reg is dat ‘n mens nie gedeporteer mag word na ‘n land waar daar politieke vervolging kan wees nie. Suid-Afrikaanse beamptes wat nalaat om ongedokumenteerde Zimbabwiërs in te lig van hul reg om vir asiel aansoek te doen of voortgaan om hulle te deporteer, selfs wanneer hulle aandui dat hulle om asiel wil aansoek doen, tree onwettig op - strydig met uitdruklike bepalings van die internasionale reg.

 Die vlugtelingprobleem spoel reeds vir ‘n geruime tyd oor na Louis Trichardt en by die Jesuïete Vlugteling Sentrum (JVS) op die dorp word gemiddeld 400 vlugtelinge per dag van hulp, raad en bystand voorsien, nadat individuele onderhoude deur kundiges met hulle gevoer is. Kospakkies, komberse, reisgeld en selfs hulp met die betaling van tydelike verblyf word in sekere gevalle deur die sentrum behartig. Die Jesuïete is ‘n hulporde van die Roomse-Katolieke kerk en die JVS is reeds etlike jare lank in meer as 50 lande bedrywig met die versorging van vlugtelinge.

Op verskeie plekke op die dorpsmeent van Louis Trichardt slaap mense ook, sonder komberse, in die bosse. Die liggaam van ‘n vermeende Zimbabwiese vlugteling, wat vermoedelik aan blootstelling beswyk het, is onlangs in die openbare park by die burgersentrum in die sentrale sakegebied van Louis Trichardt aangetref.

Van die vlugtelinge wat op Louis Trichardt aangekom het, het eers lààt gehoor van die nuwe wending dat tydelike asielpermitte nou op Musina uitgereik word. Dié permit magtig die draer om vir ses maande in die land te mag bly en te mag werk of studeer. Voorheen was Pretoria die naaste aansoekpunt. Vlugtelinge op Louis Trichardt ondervind nou probleme om terug te kom op Musina. Binnelandse Sake vervoer op ‘n daaglikse grondslag met behulp van die SAPD talle Zimbabwiërs teen hul sin terug na Musina, terwyl dié wat vir asiel aansoeke daar moet wees, met ‘n oënskynlike onoorbrugbare vervoerprobleem te kampe het. Skriftelike navraag wat aan die nasionale woordvoerder van die departement, Me Siobhan McCarthy gerig is oor die aangeleentheid, was met druktyd vandeesweek nog onbeantwoord

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines