

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 August 2008
Baba Nathan Puth het die afgelope naweek ‘n opehartoperasie ondergaan, nadat hy inderhaas oorgeplaas is na ‘n ander hospitaal.
Klein Nathan is op 17 Junie gebore met hartvate wat omgeruil is. Die regter ventrikel van die hartjie is ook beskadig. Op vyf weke oud het medici by die Unitas Hospitaal in Pretoria hom twee dae gegee om te lewe. Sy ouers het saam met baie ander aangehou bid vir Nathan se herstel.
Saterdag (9de) het klein Nathan baie agteruit gegaan, die suurstofvlakke in sy bloed het drasties gedaal en hy het gesukkel om asem te haal. Pa Martin en ma Marlien het besluit om ‘n tweede opinie in te win. Dr Kenny Gavendrageloo van die Walter Sisulu Pediatric Cardiac Centre for Africa het ingewillig om Nathan by die Unitas Hospitaal te kom ondersoek, waarna hy oorgeplaas is na die Sunninghill Hospitaal in Johannesburg, waar die pediatriese hartsentrum gehuisves word.
“Na deeglike ondersoeke deur die spesialiste en chirurge is daar tot die gevolgtrekking gekom dat, indien hulle nie dadelik opereer nie, Nathan dit nie deur die nag sal maak nie,” vertel die ouers.
Om 23:00 Saterdag het die vyf-uur-lange operasie begin. Nathan se groot hartvate is omgeruil.
“Omtrent vieruur die oggend het Prof. Kingsley, die chirurg, vir ons kom vertel dat die operasie suksesvol was, maar dat Nathan nog baie kritiek is,” het Marlien Sondag gesê.
Maandag het dr. Gavendrageloo gesê dat dit lyk of altwee ventrikels van die hartjie mooi saamtrek, maar dat hulle eers sal kan sien wat die pompvermoë van die regter ventrikel is sodra die masjiene af is.
Laat Dinsdagmiddag het die selfoonboodskap deurgekom dat die hartmasjien afgehaal is en dat die dokter sê dat Nathan sover goed vaar.
“Ons glo en bid dat alles goed sal gaan en dank God vir wat Hy sover vir ons gedoen het en dat ons betyds by die regte mense uitgekom het en dit op ‘n Saterdagmiddag, wat bykans onmoontlik is,” sê Martin en Marlien Puth.Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
