ADVERTISEMENT:

 

Is die firmas bloot treurig, of raak skelms slimmer?

 

News  Date: 29 August 2008

 

Die sekuriteitsbedryf in Louis Trichardt kom toenemend in die spervuur ten opsigte van klagtes oor swak dienslewering, maar is hierdie kritiek geregverdig?

Sedert die begin van Julie vanjaar is plaaslike sakelui geteister deur ‘n vlaag middernaglike inbrake by hul ondernemings. Op 4 Julie het Ferdie’s Paints deurgeloop en die aand daarna LTT Bolt & Nut. Op 14 Julie was Alert Staal die slagoffer, gevolg deur Afrox op 6 Augustus en CTM in die Makhado Crossing-kompleks op 17 Augustus. Al hierdie besighede het beskik oor ‘n alarmstelsel en gewapende reaksie, maar in nie een van die gevalle kon die betrokke sekuriteitsfirmas die inbrake verhoed nie. In ten minste drie van die gevalle was die sekuriteitsfirmas nie eens bewus daarvan dat daar ingebreek is nie, totdat hulle die volgende oggend deur die ondernemings van die inbrake in kennis gestel is.

Ten opsigte van die inbrake by Ferdie’s Paints, Alert Staal en CTM blyk daar ‘n duidelik patroon te wees ten opsigte van die werkwyse van die inbrekers. In al die gevalle is toegang tot die persele verkry deur ‘n syvenster wat versigtig oopgemaak is, sonder om enige opsigtelike skade aan die venster aan te rig. Die diefwering word verwyder en die venster word weer toegedruk, sodat dit lyk of daar niks verkeerd is nie. Die “ogies” van die alarms of die hele stelsel self word dan gediskonnekteer.

In al drie bogenoemde gevalle het die ondernemings se onderskeie sekuriteitsfirmas wel opgemerk dat daar iets verkeerd is. In al drie gevalle is voertuie na die persele uitgestuur, maar in nie een geval kon die beamptes op sigwaarde van buite merk dat daar ingebreek is nie. Na hulle weer gery het, het die boosdoeners heel rustig die ondernemings geplunder. By Ferdie’s Paints is R30 000, toerusting en ‘n skootrekenaar gesteel. By CTM is R35 000 gebuit, asook ondermeer vier rekenaarskerms. By Alert Staal beloop verliese sowat R120 000 wat die skade, kontant en twee rekenaarbokse insluit.

“Almal betaal hierdie plekke [sekuriteitsfirmas] en niemand kom agter hulle breek in nie ... Ons ly die skade en die sekuriteitsfirmas kom weg daarmee. Waarvoor betaal jy hulle? Jy betaal hulle tog om jou plek op te pas en wat kry jy daarvoor,” is die mening van mnr. Ferdie Viljoen van Ferdie’s Paints. In dieselfde asem sê hy dat hy niks teen die eienaars van die sekuriteitsfirmas het nie, slegs dat hy ongelukkig is oor hul diens.

“Ek self het ‘n besigheid. Iemand kan dalk van my hou, maar hulle kan steeds dink ek verkoop gemors verf,” sê Viljoen.

Viljoen voel baie sterk daaroor dat sekuriteitsfirmas meer verantwoordelikheid moet aanvaar wanneer inbrake wel voorkom, in so ‘n mate dat hy meen firmas wat swak diens lewer se name in die koerant gepubliseer moet word.

“Jy weet nie wie om te vertrou nie. Iewers moet mens iets begin doen. Dit is nie ‘n diens wat gelewer word om bloot te sê ‘ons kon niks verkeerd sien’ nie,” sê Viljoen. Hy het nie versekering gehad ten tye van die inbraak nie.

Viljoen se sentiment word gedeel deur mnr. Hannes Benade van CTM.

“Hulle doen nie hulle werk behoorlik nie ... Dit is die tweede keer in drie maande wat dit gebeur. Die assuransie gaan my begin roer,” sê Benade. Benade, wat wel versekering het, sê sy bybetaling vir die laaste inbraak beloop sowat R7 000. Sy ‘geen-eis’ bonus is ook daarmee heen. Tans maak Benade gebruik van die dienste van drie afsonderlike sekuriteitsdienste teen ‘n koste van sowat R3 500 per maand.

“Ek gaan maar aan met die sekuriteitsfirmas, want na wie anders kan ek gaan?” sê ‘n moedelose Benade.

Die bestuurder van Alert Staal, mnr. Jaco Oosthuizen, voel egter dat die probleem nie soseer swak dienslewering van sekuriteitsfirmas is nie, maar eerder die feit dat vandag se skelms baie slimmer is. In sy geval het sy sekuriteitsfirma bloot ‘n “korrupte” sein vanaf die perseel ontvang wat nie dieselfde is as wanneer die alarm geaktiveer sou word nie. Die sekuriteitsfirma het dadelik uitgegaan, maar kon ook niks verkeerd sien nie. Hulle het selfs later die aand vir ‘n tweede keer die perseel besoek, maar steeds kon hulle geen onraad bemerk nie.

“My opinie is dat, by sekere van ons ouens waar daar ingebreek is, dit gedoen is deur iemand wat alarmstelsels goed ken ... By my het hulle eers die alarm omseil en gediskonnekteer. Dit moet iemand wees wat weet hoe dit werk,” het Oosthuizen gesê.

Wat die rooftogte, werkwyse en tipe goedere wat gesteel word betref, voel beide Viljoen en Oosthuizen dat dit die werk is van ‘n sindikaat.

“Ek glo hierdie ouens is ‘n redelike groot sindikaat wat saamwerk,” sê Oosthuizen. “Hier is ‘n klomp ouens wat deurgeloop het op dieselfde manier.”

Viljoen is meer uitgesproke.

“Ek sê steeds dit is ‘inside jobs’ ... Dit is ‘n sindikaat, want die manier waarop ingebreek word, is dieselfde. Dit is iemand wat weet hoe werk die alarmstelsels en wat weet hoe werk die maatskappye,” sê Viljoen.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadiki het by navraag gesê dat die polisie besig is om aandag te gee aan al die sake. Hy was egter versigtig om die inbrake in hierdie stadium toe te skryf aan die werk van ‘n sindikaat.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines