

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 August 2008
‘n Zimbabwiese boer en sy vrou slaap op die grond by die ingang van hul plaas nadat hulle uit hul huis gesit is.
Mnr. Andries Botha van Levubu vertel die hartseer verhaal, want dit is sy suster en swaer wat al meer as 11 dae onder die sterrehemel slaap.
Kobus en Mariana Joubert, wat in Chegutu met tabak, beeste, kool en uie boer, was Vrydagaand (16de) in hul woning toe hul huis se deure oopgebreek is en hulle ‘n uitsettingsbrief ontvang het. Hulle moes summier uit die huis en het die aand onder die boom by hul huis op ‘n matras oornag. Hulle meubels is op vragmotors en trekkers gelaai.
Die volgende dag het hulle verskuif na die plaas se ingang vanaf die Harare Bulawayo teerpad, ongeveer 1 000m vanaf hul huis. Daar slaap hulle nou elke nag. Intussen staan daar 50 ton tabak in die stoor om bewerk te word en kool en uie staan op die lande.
“Kobus wil nie die plaas verlaat nie, want dan sal hulle sê hy het uit vrye wil gegaan. Dan het hy geen saak om dit te probeer regstel nie. Kobus en sy prokureurs is van mening dat die besetting totaal onwettig is,” sê swaer Andries.
‘n Hooggeregsaak om die onwettige besetting om te keer sou op 26 Augustus plaasgevind het, maar is waarskynlik uitgestel as gevolg van die parlementsopening.
“Ek het met hulle gepraat en hulle klink nog goed, maar hul sê dit begin hulle nou vang om so onder die hemel te leef. Dis nie meer lekker vir n persoon wat al 60 is nie,” het Andries Dinsdag gesê.
Andries se vrou, Tina, sê dat mense van heinde en verre bel om te ondersteun.
“Mense van Suid-Afrika het ook al die Jouberts se bankrekeningnommer gevra. Ander wil hulp gee met enigiets wat hulle kan. Die mense bel ook van oorsee af, tot die Chicago Tribune het hulle al geskakel…”
Die plaasarbeiders van die Jouberts staan hulle getrou by en waak dag en nag by hulle. Die Chegutu-gemeenskap is baie ondersteunend en dra vir hul koffie en piekniekmandjies aan.
“Ds Petrus Kriel van die NG Kerk en die ring van Louis Trichardt bied ook baie ondersteuning,” sê Andries.
“Ons voel van TLU SA Levubu se kant af dat mense bewus gemaak moet word van wat regtig aangaan en hoe die situasie in Zimbabwe ons almal raak,” sê me. Annari Muller van die TLU SA Levubuvallei Boerevereniging.
Intussen word Musina, Louis Trichardt en omgewings die heenkome van ‘n stroom Zimbabwiërs wat noodgedwonge hul land verlaat, hetsy as asielsoekers of om ekonomiese redes en by gebrek aan noodsaaklike lewensmiddele.Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
