ADVERTISEMENT:

 

Beamptes besig met opnames in die ondersoek ná die noodlottige ongeluk net noord van Musina, waarin ‘n polisieman dood en 13 vroulike insittendes onderweg na Beitbrug beseer is. Die voertuig van die Mutale polisiestasie het vroulike aangehoudenes na die grenspos vervoer.

Polisieman dood en 13 beseer na vangwa omslaan

 

News  Date: 29 August 2008

 

‘n Polisieman is dood en 13 Zimbabwiese vroue is beseer toe ‘n volgelaaide polisievangwa verlede Vrydagmiddag net noord van Musina, onderweg na Beitbrug, omgeslaan het.

Die polisieman is op slag dood. Drie van die 13 vroulike passasiers is met ernstige beserings in die hospitaal op Musina opgeneem. Een van hulle, ‘n verwagtende vrou, is in die waakeenheid. Die ander tien passasiers is vir ligter beserings behandel.

Die name van die oorledene en die beseerdes is nog nie vrygestel nie.

‘n Polisiewoord­voerder het Vrydag by navraag gesê ‘n agterband van die vangwa het vermoedelik gebars en veroorsaak dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. Dit het die pad verlaat en omgeslaan.

Een van die beseerdes het kort ná die ongeluk by die hospitaal gesê die voertuig het baie vinnig gery.

Die vangwa was van die Mutale polisiestasie na Beitbrug onderweg toe die ongeluk Vrydagmiddag omstreeks 15:00 plaasgevind het.

Dit is die vierde ernstige ongeluk binne 9 maande waarin polisievoertuie in die noorde van Limpopo betrokke was terwyl hulle met die massavervoer van buitelandse burgers na die Beitbrug grenspos besig was. Vroeg vanjaar is 15 mense in so ‘n ongeluk naby Beitbrug dood. In twee ander sulke ongelukke naby Alldays en naby Tshipise het die SAPD se provinsiale woordvoerder by navraag beweer dat niemand ernstig beseer is nie.

Terwyl daar landwyd ernstige vrae gevra word oor die wettigheid en menslikheid van die voortgesette massa deportasie van Zimbabwiese burgers te midde van die voortgesette politieke geweld, ekonomiese chaos en kritieke voedselnood in daardie land, is kommer ook reeds herhaaldelik uitgespreek oor die voertuie waarmee en die wyse waarop dié massavervoer behartig word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines