ADVERTISEMENT:

 

Streek loop deur onder brande

 

News  Date: 05 September 2008

 

Verwoestende brande ontstaan oral in die provinsie en vanuit verskeie oorde word mense gemaan om geen vure te maak nie.

By Ratombo het ‘n onverwagte vuur almal se Sondagmiddagslapies kortgeknip. Op die plaas Schoonuitzicht het 12ha van ‘n  plantasie bloekombome afgebrand. Vermoedelik het die vuur ontstaan as gevolg van foutiewe kragdrade, waar die vonk die hoë bome aan die brand gesteek het. ‘n Geweldige sterk wind het die vuur vinnig laat versprei.

“Bure het ons net na twee die Sondagmiddag geskakel en gevra of ons weet dat dit brand. Toe ons uitgaan, was alles reeds in ligte laaie. Daar was so ‘n donker, pikswart rook dat ons mekaar glad nie kon sien nie,” sê me. Salome Lourens. Die brand het oor die pad gespring, maar is later onder beheer gebring. Geen geboue het gebrand nie. Teen nege-uur die aand kon die brandslaners gaan rus.

“Jy voel die volgende dag of jy in ‘n bomontploffing was,” sê Lourens.

Die vuur het ook skade aangerig op die plaas, Klein Australië, waar mnr. Tewie Wessels huur.

Die vorige dag het saagsels by Makhado Saagmeule begin brand. Grasveld en ‘n paar makadamia- en koejawelboompies is verwoes. “Gelukkig was daar nie regtig skade nie,” het mnr. Christo Woest gesê.

Mnr. Frits Ahrens, voorsitter van die TLU SA Louis Trichardt Boerevereniging het ook ‘n brand op Donderdag, 28 Augustus, by Southdown en ‘n brand op Vrydag by Baron Chickens gerapporteer.

“Ons vermoed kwaadwillige brandstigting,” het mnr. Ahrens gesê

Ahrens waarsku dat dit nou ‘n brandvrye tyd is.

Ahrens sê daar mag nie eens gepoog word om ‘n beheerde vuur te stig nie en waarsku dat enige iemand wat vure begin om selfs tuinafval te verbrand van brandstigting aangekla kan word. Hy maan verder dat elke grondeienaar oor die nodige brandslaantoerusting moet beskik en dat daar, volgens wet, brandbane moet wees.

Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, het met kommer kennis geneem van die verwoestende veldbrande in die Levubu-omgewing. Hy het ook nie die moontlikheid van brandstigting in sommige gevalle uitgesluit nie.

Volgens mnr Surprise Mpijalale, hoof brandbeampte van die Vhembe Distrik, kan persone wat vure maak, gerapporteer word by die plaaslike brandweer of verkeersdepartement.

“Die probleem rondom die uithaal van bye is ook groot. Ons het by verskeie plekke rondom die plantasies gaan praat en gevra dat die praktyk moet stop, maar ongelukkig het die mense nie gehoor gegee nie. Ons vra die plaaslike gemeenskap en die tradisionele leiers om ons by te staan in ons geveg teen die brande,” het Mpijalale gesê.

By die meeste van die vure wat die afgelope week ontstaan het, word daar met groot lof gepraat van die hulp wat verleen is.

“Daar is weereens bewys dat goeie radiokommunikasie die enigste manier is om ‘n vuur te beheer,” sê Ahrens. Hy  voel egter sterk oor die feit dat daar wel persone is wat nog nie oor radiokommunikasie beskik nie en wat ook nie kom help met brande by bure nie.

“Dit is net altyd dieselfde gesigte wat kom help,” sê Ahrens.

Lourens het ‘n paar name uitsonder en dankie gesê aan Jaco Roux, Mike du Toit, Dave Pope, Marius Schutte, die Miltons, Daan Snyman, Gerrie du Plooy en die mense van Makhado Saagmeule wat gehelp het met die vuur.

“As daar nog mense is wat ons nie in die digte rook kon sien of wie se name ons nie ken nie, baie dankie.”

Me. Anne McGaffin, wat die saagmeule op Ratombo huur, voeg ook haar dank by aan alle individue en maatskappye wat bystand verleen het.

“Sonder die flinke optrede van almal sou die skade baie erger gewees het,” sê McGaffin.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines