ADVERTISEMENT:

 

Arbeiders van Global Plants van Tzaneen, besig om die kremetart, ‘n beskermde boom, by die ou Baobab Bande te verwyder. Die boom sal binnekort hervestig word by die Boardlands Eco Estate in Polokwane.

Bekende kremetart kry nuwe tuiste in eko-paradys

 

News  Date: 05 September 2008

 

In ‘n samelewing waar bome goedsmoeds afgekap word, is dit verblydend om te sien dat daar steeds mense is wat, ongeag onkoste, nog bereid is om enige prys te betaal om te verseker dat ‘n stukkie natuurprag vir die nageslag bewaar word.

Talle inwoners het Dinsdagoggend die kantore van die Zoutpansberger geskakel om te hoor of die koerant daarvan bewus is dat mense besig is om die kremetart voor die ou Baobab Bande in Kortstraat, Louis Trichardt, uit te kap. Met die algemene verskynsel dat mense deesdae sommer voor die voet bome uitkap, het die vraag onmiddellik ontstaan of daar toestemming van die Departement Omgewingsake verkry is om die kremetart, ‘n beskermde boom, te verwyder.

Daar is vinnig kontak gemaak met mnr. Tiny Sinden van die plaaslike Departement van Omgewingsake, wat bevestig het dat ‘n permit wel uitgereik is vir die verwyder van die boom, maar nie vir die vernietiging daarvan nie. Nee, hierdie boom, het Sinden gesê, is op pad na die Boardlands Eco Estate in Polokwane om daar hervestig te word.

Tydens ‘n besoek aan die toneel is daar kennis gemaak met mnr. Ric Kuisis van Global Plants van Tzaneen. Sommer met die intrapslag was dit duidelik dat Kuisis ‘n man is wat weet wat hy doen. Hoe dan anders, want hy spesialiseer in die verwydering en hervestiging van inheemse, beskermde en spesiaal-beskermde bome, al vir die afgelope 27 jaar.

“Ek raak nie aan ‘n boom as die papierwerk nie reg is nie,” het Kuisis gesê.

Kuisis het verduidelik dat hy gehuur is om die boom te verwyder, aangesien die perseel geoormerk is vir ontwikkeling.

“Die rede hoekom ons hierdie tyd van die jaar die boom hervestig, is omdat dit gedurende die winter reserwes opgebou het, reg vir die lente. Soos wat ons dit nou gaan doen, het die boom ‘n 100% kans op ‘n suksesvolle hervestiging,” sê Kuisis. “As jy ‘n maand van nou af kom kyk, sal die boom in volle blaar wees; inteendeel, hy sal ook blom,” voeg Kuisis by.

Die verwyder van die boom is slegs een deel van die uitdaging. Permitte is ook nodig vir die vervoer van die boom na Polokwane per abnormale vrag. By die Eco Estate word die gat intussen gereed gekry vir die aankoms van die boom. Maar dit is nie sommer net ‘n gat in die grond nie. Kuisis verduidelik dat die gat uitgegrawe word volgens die grootte van die kremetart se wortelstelsel. Daarna word sand en grond volgens die regte verhouding en volgens die natuurlike behoefte van die boom voorberei om te verseker dat die boom sal oorleef. Die boom sal, volgens beplanning, Donderdag (vandag) met spesiale hyskrane gelig en op die vragmotor gelaai word.

Maar wie is die persoon wat soveel moeite doen om een van hierdie ou bosreuse te bewaar? Dit is weliswaar mnr. Jaco Kritzinger van Strydom Scrapmetals op Louis Trichardt. Hy het onlangs, met die oog op uitbreiding, die betrokke perseel gekoop.

“Ons gaan onder meer ‘n weegbrug vir vragmotors daar bou en die boom is in die pad,” het Kritzinger gesê. Die feit dat die boom in die pad is, is egter nie die enigste rede waarom die boom verwyder word nie. Kritzinger, ‘n ware liefhebber van inheemse bome, sê hy wou nog altyd ‘n kremetartboom gehad het, maar dat hulle (veral hierdie grootte) bykans onverkrygbaar is, aangesien mens hulle nie uit die natuur mag verwyder nie. Hy het dus die geleentheid aangegryp om te verseker dat hy sy eie kremetartboom kan kry vir sy stukkie grond by die Eco Estate. Daar sal die boom deel wees van die bykans 400 ander inheemse bome wat hy aangeplant het.

Soos die projek vorder, word die kostes meer. Kritzinger sê die fisiese skuif van die boom kos hom so ongeveer R30 000, terwyl die voorbereiding van die gat hom sowat R17 000 uit die sak jaag. Op ‘n vraag of hy voel dit is ‘n goeie belegging, het Kritzinger gesê: “Dit is verseker die moeite werd. Dit is nie elke dag dat jy so iets kry nie”.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines