ADVERTISEMENT:

 

Wyle Johan Nel.

Gru-ongeluk eis nog ‘n jong lewe

 

News  Date: 12 September 2008

 

In wat as een van die hartseerste weke in ‘n lang tyd vir die plaaslike gemeenskap beskou kan word, is nog ‘n jong inwoner se lewe beëindig in ‘n voertuigongeluk. Johan Nel (36) is Maandag in ‘n grusame botsing naby Brits in die Noordwes provinsie dood. Sy dood volg enkele dae na die ongeluk wat twee jong inwoners se lewens op die Bluegumspoortpad geëis het.

Teen druktyd was al die besonderhede rondom die ongeluk waarin Johan dood is nog nie bekend nie. Volgens sy pa, mnr. Frik Nel van Louis Trichardt, het dit waarskynlik tussen 11:00 en 13:00 op ‘n pad naby Brits plaasgevind. Johan was oppad terug vanaf Northam na Pretoria. Hy was werksaam by ‘n maatskappy wat geologiese opnames gedoen het. ‘n Wegholvragmotor het vermoedelik by ‘n kruising naby Brits in sy motor vasgejaag. Albei voertuie het aan die brand geslaan en Johan, wat alleen in die voertuig was, is op slag dood.

Johan het op Louis Trichardt grootgeword en het in 1990 aan Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Na skool het hy ‘n diploma in geologie aan die Pretoria Technikon voltooi. Hy en sy vrou, Izelle, het hulle in 2001 op Louis Trichardt kom vestig en sy besigheid, JLN Geotech, het gespesialiseer in geotegniese ondersoeke en boorgataanwysings. Hy het ook sy pa bygestaan met dié se besigheid, Neldakke.

Johan was die afgelope paar maande werksaam by Blue Rock Consultants. Dié maatskappy het beplan om ook in Louis Trichardt ‘n tak oop te maak, wat Johan dan sou bedryf.

In Louis Trichardt was Johan bekend vir sy betrokkenheid by die Soutpansberg Dorpswag en hy was ook ‘n ywerige voëlkyker en lid van die plaaslike voëlkykersklub.

Johan en Izelle het twee kinders, Hendrik (9) en Jeannette (8). Hy laat ook sy ouers, Frik en Sougnet Nel van Louis Trichardt na en ‘n broer, Roelof, wat tans in die VSA woon.

Die familie het ‘n woord van dank en waardering gerig aan al die vriende en familielede wat woorde van bemoediging gerig het en hulle bygestaan het in hierdie tyd van rou. ‘n Spesiale woord is gerig aan dr. André van der Walt en ds. Jan Pretorius vir hul bystand. Die roudiens vind eerskomende Dinsdag (16de) om 11:00 in die NG Kerk Moedergemeente plaas.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines