ADVERTISEMENT:

 

‘n Afskrif van die rekening wat saam met die kontrak aan mnr. John Le Cornu gestuur is van SAMRO.

Kliënte se luistergenot kan besighede duur kos

 

News  Date: 12 September 2008

 

Die wet van Transvaal … Wie sou nou kon dink dat besighede duisende rande ekstra per jaar sal moet opdok vir daardie tikkie luistergenot wat hulle vir kliënte op hul sakepersele bied?

Plaaslike sakeman mnr. John Le Cornu, eienaar van Mount Fuji Motors op Louis Trichardt, vertel dat hy hier begin Augustus ‘n oproep ontvang het van SAMRO (Suid-Afrikaanse Musiekregte Organisasie) wat by hom wou weet of hy ‘n lisensie het vir die musiek wat hy vir sy kliënte op die rybaan en in die werkswinkel speel. Hierop het hy nee gesê en kort daarna kry hy per faks ‘n klomp vorms om aansoek te doen vir ‘n lisensie. Die SAMRO-mense wou niks weet van John se verduideliking dat hy bloot ekstra luidsprekers aangebring het en bloot na Radio Jakaranda luister nie.

“Volgens hulle, lyk dit vir my, moet jy ‘n lisensie hê die oomblik as lede van die publiek kan luister na jou radiostasie,” sê John. Terloops, in ‘n stadium moes die niggie van SAMRO aanhou vir John en toe hy uiteindelik met haar praat wou sy sommer ook weet of hy ‘n lisensie het vir daardie ding-dong musiek wat speel as mense aanhou. Ook hiervoor moet hy nou ‘n lisensie kry, want blykbaar het dit ook te doen met die beskerming van kunstenaars se werk.

John het toe maar die vorms ingevul en dit was nie lank nie, toe kry hy ‘n kontrak in die pos wat hy moet teken. Ook nie goedkoop nie, want SAMRO werk die jaarlikse tarief uit volgens die oppervlakte van die sakeperseel, hoeveelheid personeel, hoeveel ure per dag die radio gespeel word en hoeveel dae van die jaar dit plaasvind. Dan maak hulle sommer nog ‘n ‘inflasie aanpassing’ van so amper R2 000 plus 14% BTW. Die totaal? R6 171.96 per jaar, om presies te wees.

“Ek het geweet daar was iets iewers in die wet wat sê jy mag nie musiek speel sonder ‘n lisensie nie, maar ek het gedink daardie ding is van die baan af,” sê John.

Inteendeel, daardie ding is nie van die baan af nie. SAMRO se amptelike webtuiste (www.samro.org.za) verduidelik in detail waarom dit nodig is om ‘n lisensie te hê en wie almal moet aansoek doen vir ‘n lisensie. Volgens SAMRO moet enige persoon betaal vir musiek, wat onderhewig is aan kopiereg, wat hy of sy vanaf ‘n perseel uitsaai, uitvoer of beskikbaar stel ingevolge die Suid-Afrikaanse Kopieregwet. SAMRO sê dit is hulle verantwoordelikheid om toe te sien dat musiekgebruiker, ongeag grootte, aan hierdie vereistes van die wet voldoen. Dit geld ook vir die speel van CD’s soos byvoorbeeld in ‘n dokter se spreekkamer.

SAMRO se webtuiste maak vir interessante leesstof, veral ten opsigte van wie vir ‘n lisensie moet aansoek doen. Daar is ‘n ellelange lys, maar daar is ‘n paar wat uitstaan, soos die feit dat taxi-eienaars (ja, daardie ouens wat met oorverdowende musiek in die strate rondjaag) ook ‘n lisensie moet hê. Dit sal interessant wees om te weet of SAMRO al enige taxi-eienaars hieroor opgeskroef het. Dit is seker makliker om eerder gevestigde besighede te teiken.

Alhoewel baie inwoners hierdie ‘lisensie geld’ as absolute snert en bloot nog ‘n manier om geld te maak beskryf het, sit John steeds met ‘n probleem.

“Wat sal jy maak. Ek sal seker maar moet betaal,” sê John. Hy is egter eers besig om regsadvies in te win oor die aangeleentheid. Hy sê hy weet nie van enige ander ondernemings wat soortgelyke navrae gekry het nie en ook nie watse boetes opgelê kan word as jy nie aan SAMRO se versoek voldoen nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines