ADVERTISEMENT:

 

Inbraak by sentrum kortwiek hulp aan behoeftiges

 

News  Date: 12 September 2008

 

Meer as 150 vlugtelinge wat by die Jesuïete Vlugteling Diens op Louis Trichardt vir hul weeklikse hulprantsoene kom toustaan het, moes Maandag teleurgesteld, honger en desperaat onverrigtersake omdraai, nadat die diens se gebou die afgelope naweek onder inbrekers deurgeloop het.

Al die voorrade (kos en klere), tesame met waardevolle toerusting is gesteel. Die kombuis is heeltemal van alle elektriese apparaat gestroop. Die televisiestel in die ontvangslokaal, tesame met telefone in  die kantore, het in die slag gebly. Die inbrekers het met behulp van ‘n trapleer ‘n gat in die plafon gemaak om van bo toegang tot die kluiskamer te bekom. Daar was egter geen kontant in die kluis ten tye van die inbraak nie.

As gevolg van die inbraak moes dié lewensbelangrike diens aan vlugtelinge Maandag heeltemal gestaak word, terwyl die polisie-ondersoek aan die gang was en daar buitendien geen voorrade was om uit te deel nie. Vroue met klein babatjies het verslae voor die hek van die terrein bly sit, lank nadat hulle verwittig is van die feit dat daar geen voorrade beskikbaar is nie. “Where shall we go? What shall we do?” was hul moedelose reaksie.

Volgens ‘n personeellid by die sentrum is dit die tweede keer dat hulle onder inbrekers deurloop. Die vorige keer is egter nie naastenby soveel skade aangerig nie.

Die hulpdienssentrum help daagliks 150 vlugtelinge. Vandeesweek sou die diens uitgebrei word om net meer as 200 vlugtelinge per dag te kan hanteer. Bykomende personeel is reeds bewillig. Benewens kos en klere, verskaf die sentrum ook hulp met dringende vervoer- en tydelike verblyfkoste van vlugtelinge, die hereniging van gesinslede en noodsaaklike inligting oor die beskikbaarheid van gesondheids- en ander hulpdienste.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines