

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 September 2008
Mnr Herman Smith, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), het die volgende reaksie gehad op die jongste kabel- en toerustingdiefstal die afgelope naweek, wat die dorp weer vir dae lank sonder water gelaat het:
Dit het nou tyd geword dat Makhado Munisipaliteit se burgemeester en amptenare verantwoordelik gehou word in hulle persoonlike hoedanigheid vir die aanhoudende diefstalle van publieke eiendom sonder dat hulle ‘n vinger verroer om dit te voorkom. Die feit dat daar nog nie sekuriteitsfirmas aangestel is om die eiendom op te pas nie, is vir die SBBV onaanvaarbaar. Pompe en kabels word reëlmatig gesteel en dit kan moontlik wees dat daar van binne georganiseer word.
‘n Studie met betrekking tot die vestiging van ‘n ligte vliegtuig projek om misdaad en hierdie tipe diefstalle te voorkom, asook vir algemene publieke diens (brand, skakings, ongelukke, roetine inspeksies ens.), is reeds agt maande gelede gedoen deur hierdie vereniging (op eie koste), saam met die munisipaliteit. Die idee word egter blatant geïgnoreer, nadat vyf kopieë van die studie aan die munisipaliteit gelewer is. ‘n DA-raadslid se hulp is al ingeroep, sonder enige sukses. So ‘n projek het al in die Kruger Nasionale Park en by ‘n polisiekantoor in ‘n groot dorp reeds groot suksesse behaal in die voorkoming van wild- en voertuigdiefstalle en kapings, huisbrake, inhegtenisnemings, die opspoor van voertuie ensovoorts, tot so ‘n mate dat misdaad met tot 60% afgeneem het. Die koste om so ‘n tweesitplek vliegtuig aan te skaf, sal nie ‘n sesde van die huidige koste van diefstalle beloop nie. Dit behels die volledige projek, met voertuie, personeel, ‘n ops-kantoor, radio’s, en dies meer en die jaarlikse bedryfskoste van die projek sal nie meer as ‘n twaalfde van die skade wees nie.
Dit is die bekende modus operandi van die munisipale amptenare om diefstal te blameer vir alles wat verkeerd gaan en die saak dan as afgehandel en nie as hulle verantwoordelikheid nie te beskou. Stappe en regulasies behoort ingestel te word teen die verkoop en aankoop van sekere skrootmateriaal, en gereelde inspeksies behoort deur die munisipaliteit en die polisie by hierdie besighede gedoen te word (verskoning aan onskuldige skroothandelaars). Daar is baie items wat lankal reeds gesteel is, waarvan die munisipaliteit nie eers bewus is nie.
Weereens sit die dorp sonder water waarvoor u baie betaal en waarvoor u ‘n kontrak met die munisipaliteit aangegaan het, maar wat hulle nie nakom nie. Die munisipaliteit het nie eers die ordentlikheid om inwoners wat deur die watertekorte geraak word, in kennis te stel van die onderbrekings nie. Hulle is al male sonder tal versoek om die geregistreerde verenigings in die dorp in kennis te stel van so ‘n noodgeval, sonder enige reaksie van hulle kant af. Indien u nie die produk (skoon water, elektrisiteit, goeie paaie, goeie finansiële dienste, veiligheid) kry waarvoor u al die afgelope 15 jaar betaal het nie, is dit nou tyd om u betaling te weerhou en in ‘n trustrekening in te betaal.
ADVERTISEMENT:
