News Date: 19 September 2008
‘n Boer van die Schoemansdal-omgewing, mnr. Buks van Tonder van die plaas Downton, is Dinsdag groot skrik op die lyf gejaag toe hy ‘n histeriese oproep van familielede ontvang het dat ‘n man sopas probeer het om hulle in die plaaswoning te oorval.
Buks vertel dat hy omstreeks 10:00 op pad was dorp toe, toe hy die histeriese oproep ontvang het. Hy vertel dat sy ma, Ina, en die huishulp alleen in die plaaswoning was, nadat hy gery het. Sy pa, Vossie, was in die veld.
Die honde het skielik begin blaf en die huishulp het een van die veiligheidshekke oopgesluit om te gaan ondersoek instel. Skaars was sy by die deur uit, toe ‘n man wat naby die deur agter ‘n muurtjie weggekruip het, skielik op haar afstorm.
Die huishulp het weer die huis binnegehardloop, met die man kort op haar hakke. Binne die huis, vertel Buks, het die man vir die huishulp gesê: “Vandag maak ek julle almal dood”.
Die huishulp het egter kop gehou en die man weer by die deur uitgeforseer. Sy het die veiligheidshek dadelik weer gesluit, waarna Ina haar seun geskakel het.
“Ek het onmiddellik omgedraai en die polisie geskakel,” sê Buks.
By die plaas aangekom, het Buks die man langs die pad gewaar, maar nie geregistreer dat dit die aanvaller was nie.
“Hy was goed geklee en heel rustig.”
Dit was eers toe sy ma vir hom sê dat dit weliswaar die verdagte was, dat Buks die man agterna gesit het. Hy is kort daarna in hegtenis geneem.
Ten spyte daarvan dat baie mense kritiek het teenoor die plaaslike polisie, het Buks net met hoë lof van hulle gepraat.
“Hulle het dadelik geantwoord toe ek geskakel het en was binne 10 minute op die plaas, saam met lede van die plaas- en dorpswag.” Hy was veral beïndruk met die vinnig optrede van Anton Jongbloed van die polisie se plaaslike honde-eenheid.
“Hy was eerste op die toneel.”
Buks sê hy wil graag almal bedank wat hom en sy familie so vinnig te hulp gesnel het.