

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 September 2008
Wat maak jy as jy elke maand moet sukkel om jou foutiewe munisipale water- en elektrisiteitsrekening uit te sorteer?
Dit nadat jy amper al ‘n jaar lank moet luister na verskonings, verduidelikings en leë beloftes van “Ons sal dit regstel, Meneer”, net om die volgende maand weer ‘n foutiewe rekening te ontvang.
Dit is die stryd waarin mnr. Gert van Zyl van Louis Trichardt nou al sedert November verlede jaar met die Makhado Munisipaliteit gewikkel is. Baie sou sekerlik al die handdoek uit moedeloosheid ingegooi het en maar “die bedrag op die staat te betaal het”, terwyl die munisipaliteit spook om die probleem uit te sorteer.
Nee, nie Van Zyl nie. Hy is ‘n hardkoppige man wat uit beginsel nie sal betaal vir elektrisiteit wat hy nie gebruik het nie – te hel met die munisipaliteit se beloftes van “krediet” as hy meer sou betaal as wat nodig was.
Van Zyl se kopsere het begin kort nadat ‘n nuwe drie-fase elektrisiteitsmeter by sy huis in Burgerstraat geïnstalleer is. Skielik het sy maandelikse elektrisiteitsverbruik van ‘n 12-maandelikse gemiddeld van sowat 800 eenhede opgeskiet na tussen 1 800 en 2 000 eenhede per maand. Oproep na oproep kon die munisipaliteit vir hom geen verduideliking gee waarom hy nou skielik moet betaal vir meer as dubbel sy normale verbruik nie.
Van Zyl het toe begin met briefwisseling tussen hom en die munisipaliteit. Dit het onder meer ingesluit drie geregistreerde briewe waarin Van Zyl wou weet of die meters deur die SABS goedgekeur is. Hy het ook in die briewe die munisipaliteit versoek om die nuwe meter te kom toets vir akkuraatheid.
Ten spyte van al sy pogings het al sy briewe onbeantwoord gebly en intussen het die foutiewe munisipale rekenings klokslag maand na maand by hom opgedaag. Sommige kere het hy sommer in een maand twee rekenings ontvang, een wat sê hy skuld soveel duisende rande en die ander een wat sê hy is in krediet. Van Zyl het egter net voortgegaan om te betaal vir dit wat hy sy normale verbruik geag het.
In ‘n stadium het Van Zyl besluit: “Tot hiertoe en nie verder nie!”
Hy is toe direk na die Minister van Plaaslike Regering, Mnr. Sidney Mufamadi, toe.
“Verbeel jou dat mens nou al direk by die minister moet gaan kla, omdat die munisipaliteit nie meer hul werk kan doen nie,” het Van Zyl gesê.
Van Zyl het sy klagte op papier vasgelê met afskrifte van sy skrywes en foutiewe rekenings en aan die minister gestuur. Hy self was effens verbaas toe hy ‘n geskrywe, gedateer 15 Augustus vanjaar, terug ontvang van die minister se kantoor waarin hy in verwittig word dat hulle kennis geneem het van sy klagte. Hy is ook laat weet dat sy saak opgeneem is met die provinsiale departement van Plaaslike Regering in Polokwane en dat hulle sal aandag skenk aan sy probleem.
Twee weke gelede daag daar toe ‘n span munisipale amptenare en arbeiders by sy huis op. Dit nadat daar ‘n briefie van die minister se kantoor blykbaar op een van die hoëkoppe by die munisipaliteit se tafel beland het.
Kabels is oopgegrawe en daar is in alle erns begin soek na die oorsaak van die probleem.
En ja, daar was toe ‘n probleem ...
‘n Munisipale amptenaar het vandeesweek verduidelik dat die betrokke erf waarop Van Zyl se woning geleë is ‘n geruime tyd gelede onderverdeel is. ‘n Tweede woning is op die onderverdeelde stuk grond aangebring, met elektrisiteit wat vanaf Van Zyl se meterkas na die tweede woning aangelê is. Later jare het die tweede woning sy eie meterkas gekry en die elektriese kabel na die tweede woning is van Van Zyl se meter ontkoppel. Toe die manne van die munisipaliteit egter verlede jaar November die nuwe drie-fase meterkas buite Van Zyl se erf aangebring het, het hulle egter weer die kabel na die tweede woning deur Van Zyl se meter gekoppel.
Vir die afgelope paar maande het Van Zyl dus ‘n rekening vir beide sy eie verbruik en sy buurman se verbruik ontvang. Hoe nou gemaak?
Blykbaar, sê die amptenaar, moet hulle bloot nou die eenhede van die buurman (aangesien hy ook ‘n meter het) aftrek van Van Zyl se “dubbele” verbruik. Van Zyl is egter skepties dat die oplossing so eenvoudig gaan wees. Intussen is daar ook ‘n tweede drie-fase meterkas in Van Zyl se tuin aangebring vir die buurman.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
