ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Andries Smal, organiseerder van die gesamentlike uitreik na sorgbehoewende bejaardes in Zimbabwe.

Gemeentes loods reuse uitreik na Zim-bejaardes

 

News  Date: 19 September 2008

 

Meer as 400 sorgbehoewende bejaardes in Zimbabwe gaan baat by ‘n gesamentlike uitreik wat van 24 tot 28 September deur die twee NG gemeentes op Louis Trichardt onderneem word.

‘n Span van 18, met vyf voertuie en sleepwaens, sal ‘n waardevolle vrag noodsaaklike voorrade vir die bejaardes na verskeie plekke in Zimbabwe bring. Dit sluit in Mutari, met ‘n ouetehuis met 30 inwoners; Kadoma (12 bejaardes); Chinoyi (60 bejaardes); Harare Waterfalls Trust (30 bejaardes); Dandaro (200 bejaardes); Marondera Borradale Trust (90 bejaardes) en die NG Kerk woonstelle wat 20 bejaardes huisves. Dit is altesaam 442 mense wat tydens die uitreik bedien kan word. Benewens die kos en medikasie vir bejaardes bring die span ook ‘n skenking van 58 Bybels na die twee gemeentes se sendingwerker, Petronella, in Chinoyi. Sy was onlangs op besoek op Louis Trichardt.

Brandstof vir die uitreik sal aangekoop word met geld wat onlangs tydens die Noordelike Sinode se sitting op 2 tot 4 September ingesamel is.

Mnr. Andries Smal, wat aan die spits staan van die projek, sê ‘n belangrike deel van die uitreik is die morele bemoediging en onderskraging wat in persoonlike kontak aan die bejaardes gegee kan word te midde van die huidige veeleisende omstandighede en ‘n landwye voedseltekort in Zimbabwe.

Hy het ‘n beroep gedoen op mense en ondernemings wat nog wil bydra tot die projek, om voedsel en gebruiksgoedere vir daaglikse gebruik na die kerkkantore te bring, sodat dit verpak en eweredig versprei kan word onder die bejaardes.

“Neem asseblief in ag dat dit bejaardes is en dat bykans alles op die oomblik onbekombaar is daar. Hulle het iets van alles nodig - sout, suiker, kookolie, sardiens, tuna, broodmeel, gis, melkpoeier, droë bone, soppoeier, bullybeef, koffie, rys, uie, aartappels, konfyt, stroop en ook toiletbenodighede soos badseep, sjampoe en tandepaste.”

Voornemende skenkers kan Andries skakel by 082 8999 543.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines