

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 September 2008
Saterdag, 13 September, was ‘n geskiedkundige dag in die bestaan van Laerskool Louis Trichardt, toe die nuwe sportkompleks van die skool, Bergvliet Park, amptelik geopen is.
Dié nuwe kompleks het tot stand gekom danksy mnr. Louis Linde, hoof van die skool, op die oop veld wat vir jare braak gelê het oorkant die skoolterrein.
Volgens Linde het die skool etlike jare gelede al besef dat die bestaande sportfasiliteite ontoereikend was, nadat die skool ongekende groei beleef het. Daar is toe gekyk na die moontlikheid om die oop grond oorkant die skool aan te koop en ‘n studie is gedoen om die waarde van die grond te bepaal. Dit sou sowat R4,5 miljoen kos om die grond aan te koop, wat die skool nie in daardie stadium kon doen nie. Groot was die vreugde toe hulle egter uitvind dat die grond inderwaarheid reeds in 1954 aan die skool geskenk is deur mev. Johanna Catharina Thompson, matriarg van die bekende Thompson-familie van die dorp.
Noudat die eienaarskap nie langer ‘n probleem was nie, was die volgende probleem die spruit wat deur die grond geloop het en dit moeilik sou maak om die grond vir sportvelde te benut, veral aangesien daardie grond tydens die vloede van 2000 totaal onder water was. Met die hulp van raadgewende ingenieurs is daar besluit om ‘n groot afvoerpyplyn van die bopunt tot die onderpunt te lê, sodat enige vloedwater daardeur afgevoer kan word. Maklik gesê, moeilik gedaan. Daar moes geld ingesamel word om die kostes te dek, en danksy die samewerking van ouers en leerlinge, asook vrygewige borge, kon dié werk gouer afgehandel word as wat beplan is.
Vandag staan die pragtige sportkompleks daar om tot voordeel van die gemeenskap aangewend te word, en dit was dan ook die wens wat al die sprekers Saterdag uitgespreek het, nl. dat hierdie geriewe ‘n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die totale gemeenskap sal hê. Die volgende projek wat aangepak sal word, is ablusiegeriewe by die kompleks.
Die dag het heelwat pret en aktiwiteite opgelewer, met verskeie sportspanne van die skool en van buite wat op die nuwe velde meegeding het teen mekaar. Die Louis Trichardt hokkiespan het die heelwat jonger hokkiespan van Musina aangedurf en 3-1 verloor, ten spyte van ‘n verbete poging van die plaaslike spelers se kant af. Daar was ook sokker tussen Laerskool Louis Trichardt en Laerskool Soutpansberg deur beide seuns- en meisiespanne, mini-krieket, skaak en skolehokkie.
Die amptelike opening is waargeneem deur mnr. Basil Thompson, seun van die skenker, en sy agterkleindogter, Tanique. Almal teenwoordig het die dag geniet en verrigtinge is afgesluit met ‘n heerlike ete vir al die eregaste.
ADVERTISEMENT:
