ADVERTISEMENT:

 

Die liggaam van mnr. Hugo Jooste word deur lede van die polisiediens verwyder, nadat hy homself Maandagmiddag by sy werk by A1 Auto geskiet het.

Verkoopsman skiet homself by werk

 

News  Date: 26 September 2008

 

Vriende en familie wonder steeds oor die tragiese omstandighede wat daartoe gelei het dat ‘n verkoopsman van A1 Auto op Louis Trichardt homself Maandagmiddag geskiet het.

Die 47-jarige mnr. Hugo Jooste het omstreeks 16:00 homself met ‘n vriend van hom se pistool in die kleedkamer op die perseel geskiet. ‘n Kollega, wat besig was om ‘n voertuig aan ‘n voornemende koper te wys, het die knal gehoor en gaan ondersoek instel. Kort daarna het hy op mnr. Jooste se liggaam afgekom.

Mnr. Jooste is onlangs met maagkanker gediagnoseer en hy sou Dinsdag met chemoterapie begin het. Vriende en familie vermoed dit kan dalk die rede wees waarom hy besluit het om ‘n einde te maak aan sy lewe, aangesien die nuus van sy terminale siekte hom erg ontstel het. Hy was ook die laaste tyd baie depressief.

Volgens inligting het mnr. Jooste ‘n selfmoordbrief agtergelaat. Alhoewel die volledige inhoud van die brief nie bekend is nie, het mnr. Jooste blykbaar wel sy vriend om verskoning gevra omdat hy sy pistool gebruik het.

Mnr. Jooste was die laaste jaar werksaam by A1 Auto. Volgens sy broer, Pieter, word ‘n roudiens op Vrydag vir hom in Pretoria gehou. Hy sal volgende Dinsdag veras word.

Mnr. Jooste word oorleef deur sy ma, broer, suster en twee seuns.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines