

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Plaza-winkelsentrum in Krugerstraat se probleem met stormwater na swaar reënbuie kan dalk binnekort iets van die verlede wees.
Gefrustreerde huurders sit al meer as vier jaar met die probleem van oorstroming en modder as dit reën en stof as dit droog is. Vanjaar het die Plaza al vier keer oorstroom en in die winkels aan die sykante van die gebou het dit al gebeur dat koppies op die water in die winkel ronddryf en winkeliers met hulle hare in hulle hande staan. Wanneer die modder in die parkeerarea uiteindelik droog word, dan vorm dit weer 'n fyn stof.
Mnr. Frans van Heerden van Super Electronics se winkel is geleë in die middeldeel van die U-vorm.
"Terwyl die oorstroming 'n groot probleem vir die meeste huurders is, is die stof wat in ons duur masjinerie ingaan, weer ons grootste probleem," sê mnr. van Heerden. Twee jaar gelede het mnr. van Heerden begin om die oorstromingsprobleem onder die aandag van die munisipaliteit te bring.
"Daar is eers gesê dat die probleem by die gebou is, maar die dakke voer die water na agter, die water kom nie van die dakke af nie," sê mnr. van Heerden. Die eienaar van die winkelsentrum, mnr. Akoo, het intussen muurtjies voor die stoepe gebou om die water uit die winkels te weer, maar die water het nog steeds oorstroom binne in die winkels aan die sykante. Die stoep met die keermure het dan soos 'n swembad gelyk.
'n Woordvoerder van die munisipaliteit het erken dat die stormwaterstelsel ontoereikend is en dat die hoeveelheid water wat by die stelsel in Krugerstraat uitspuit, te veel is vir die stelsel om te hanteer. Die stormwaterprobleem is egter nie beperk tot die Plaza nie, maar affekteer die hele omliggende gebied in die middedorp. Die goeie nuus is egter dat die herstrukturering van die stormwaterstelsel in die middedorp tans aan die gang is, soos wat gesien kan word aan die slote wat tans in Kroghstraat gegrawe word. Die stormwaterlyn in Krogh-, Burger- en Krugerstrate word hergestruktureer om 'n groter hoeveelheid stormwater te kan hanteer.
Volgens die hoof van die afdeling vir stormwater en paaie, mnr. Johan Prinsloo, behoort die projek binne twee tot drie maande afgehandel te wees.

ADVERTISEMENT:
