ADVERTISEMENT:

 

Raad meen dienslewering is onder beheer, maar SBBV verskil

 

News  Date: 26 September 2008

 

Die Stadsraad van Louis Trichardt is wel deeglik bewus van die haglike toestand waarin die dorp se infrastruktuur is. Dit blyk duidelik uit ‘n verslag wat vir die Raad opgestel is deur die waarnemende munisipale bestuurder (MB) insake die dispuut wat teen die Raad verklaar is deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV).

In die verslag word die wetlike gronde waarop die SBBV hulleself beroep, aangehaal, wat bewys dat die Raad bekend is met die inhoud van beide die dispuut en die wetlike vereistes ten opsigte van dienslewering.

In die verslag noem die MB dat die munisipaliteit verantwoordelik is vir kleinskaalse watervoorsiening namens die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), wat die hoof watervoorsiener vir die streek is. Hy roem daarop dat die dienslewering aan die dorp en omstreke in hierdie verband hoog is. Hy dui aan dat die totale bergingskapasiteit van die reservoir 23 Ml is en dat daar genoeg water is vir die dorp vir agt ure wanneer daar nie gepomp kan word nie. Hy beskou dit as voldoende, alhoewel die dorp drie maal soveel water benodig. Dié “hoë” standaard van dienslewering kan plaasvind selfs wanneer iets onvoorsiens gebeur, soos wanneer pype bars of onverwagte meganiese of elektriese probleme opduik, asook aktiewe vandalisme, soos die steel van koperkabels wat die pompe van krag voorsien. Inwoners sal hulle egter herinner aan die laaste onderbreking, toe die dorp amper twee dae sonder water was na koperkabeldiefstal by die Albasinidam pompstasie.

Die verslag berig voorts dat fisiese toetse op die water wat aan die dorp voorsien word vir menslike gebruik uurliks uitgevoer word en dat die water geskik is vir dié doel. Die uitdagings waarvoor die munisipaliteit staan, word aangedui as ‘n ontoereikende watervoorsieningsbron, onvoldoende en verouderde watervoorsieningsinfrastruktuur, en aanhoudende en aktiewe vandalisme. Wat eersgenoemde betref, word daar deur die VDM ‘n pypleiding aangelê vanaf die Nandonidam, asook ‘n 10Ml reservoir gebou. Ander maatreëls is die rantsoenering van water deur toevoerbeheer en ‘n gedeeltelike moratorium op nuwe ontwikkelings.

Nog ‘n interessant brokkie uit die verslag is dat die munisipaliteit ook voel dat hulle ‘n hoë kwaliteit diens lewer in terme van riolering. Die huidige suiweringsisteem hanteer sowat 124 liter per sekonde, terwyl die stelsel ontwerp is om 66 liter per sekonde te hanteer. Volgens die verslag lê die probleem by ontoereikende infrastruktuur, en wel by die massarioleringsnetwerk.

“Hoewel dit so is dat oorstromings plaasvind, moet dit insgelyks ook vermeld word dat die huidige uitslae van die toetse op die water wat ons drink aandui dat dit geskik is vir menslike gebruik.”

Wat die paaie en strate in die dorp betref, word die toestand daarvan as ongewens aangedui. “Dit is as gevolg van langdurige verwaarlosing van die paaie asook die dun basis waarop hierdie paaie gebou is.” Intussen het die munisipaliteit begin om nuwe materiaal te gebruik en, “hoewel nog nie voldoende nie, is daar tog ‘n verbetering in vergelyking met die toestand vier maande gelede.”

Die SBBV se reaksie op dié verslag is nie so positief nie. Voorsitter Herman Smith dui aan dat die riool wat al jare lank die varswateropvanggebied besoedel, ernstige gesondheidsprobleme kan veroorsaak, ten spyte van die “hoë vlak van dienslewering” deur die munisipaliteit. Wat die suiwerheid van die drinkwater betref, dui Smith aan dat die SBBV die toetse wat gedoen word as “uiters basies” beskou en net vir chloor en suurgehalte toets. Smith het ook nog nie, na ‘n skriftelike aansoek maande gelede ingedien is vir toegang tot die suiweringswerke, enige antwoord op sy versoek ontvang nie. In terme van die munisipale begroting dui hy aan dat daar geen daadwerklike konsultasie met die belastingbetalers gevoer is nie. Hy beweer ook dat die begroting drie maal verander is en toe goedgekeur is by ‘n vergadering wat inderhaas byeengeroep is en waar raadslede waarskynlik nie tyd gehad het om dit te bestudeer voordat dit goedgekeur is nie. Die SBBV beskou dus die begroting as onwettig. Smith beskou die ouditeur-generaal se verslag oor die toestand van die Raad se finansies as ‘n gebrek aan vaardigheid en ‘n klaarblyklike onwilligheid om die situasie te verbeter. Hy betreur ook die feit dat die Raad al die SBBV se voorstelle rakende die instelling van die nuwe eiendomsbelastingstariewe verwerp het sonder enige verduideliking. Laastens spreek Smith ook die situasie rondom personeel in die algemeen en dié van Me. Faith Muthambi in besonder aan. Smith bevraagteken die Raad se hantering van Muthambi se skorsing en die prosedure wat gevolg is in hierdie verband, asook die feit dat daar soveel “waarnemende” amptenare is wat waarskynlik nie die werk kan doen vir die poste waarin hulle waarneem nie, “want dan sou hulle al aangestel gewees het.”

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines