ADVERTISEMENT:

 

Zim-haweloses soek toevlug op Louis Trichardt

 

News  Date: 26 September 2008

 

Meer as 100 Zimbabwiërs bevind hulle nou sonder skuiling, onversorgd en heeltemal gestrand op Louis Trichardt.

Dié ontwrigte, hawelose Zimbabwiërs het die 100km vanaf  Musina te voet afgelê en bevind hulle nou in die oop veld tussen Louis Trichardt se sakesentrum en die suidoostelike nywerheidsgebied. Die groep sluit vroue met babas in. Daar is ook kinders van skoolgaande ouderdom tussen hulle. Sondag is ‘n 11-jarige, onbegeleide weeskind onder meer tussen hulle aangetref.

Die groep bestaan hoofsaaklik uit gedokumenteerde immigrante wat gretig op soek is na werk om geld te bekom waarmee hulle hul familielede in Zimbabwe kan help versorg. Van die kinders is ook hier om lewensmiddele vir hul gesinslede te probeer bekom. Onder hulle is ook weeskinders, wat niemand meer oor het nie en ook geen adres in Zimbabwe het om heen terug te keer nie en desperaat op soek is na ‘n oorlewingskans in Suid-Afrika. Die res is asielsoekers, sonder die geldelike middele en vervoer om by die vlugtelingontvangsen­trums op Musina of in Gauteng te kan kom vir dokumentasie.

Van die Zimbabwiërs wat vriende, kennisse en gesinslede in Gauteng het, beskik nie oor die middele on daarheen te reis om by hulle te kan aansluit nie. Die geldelike bystand wat aanvanklik deur die Jesuïete se vlugteling hulpsentrum (JRS) op Louis Trichardt beskikbaar gestel is aan mense wat verder moes reis, is tans uitgeput.

Die enigste sigbare kosvoorraad onder hulle is die nood kospakkies wat die JRS op weeklikse grondslag aan ontwrigte Zimbabwiërs uitdeel en hoofsaaklik uit droë rantsoene bestaan. Op Louis Trichardt het hulle geen onderdak slaapplek of ordelike toegang tot drinkwater of  toiletgeriewe nie. Hulle gebruik water uit die veesuipings by die munisipale skutkrale. Dié wat kosvoorraad bekom, kook dit op oop vure in ou blikke op die dorpsmeent. Sommige slaap sonder komberse by dié vure. Ander bring die nag deur op winkelstoepe en sypaadjies in Eltivillas. Daar gebruik hulle hoofsaaklik dun plastiek verpakkingsmateriaal as komberse.

Daar is aanduidings van owerheidsweë om dié ontwrigte vreemdelinge in hul oorlewingskrisis by te staan en om hulle in hul opvallende nood en basiese behoeftes behulpsaam te wees. Die Makhado Munisipaliteit en die SAPD dra kennis van die mense se teenwoordigheid en van hul haglike omstandighede.

Intussen skep die sigbare teenwoordigheid van die groot getal haweloses in die onmiddellike omgewing van die nywerheidsgebied spanning by sakelui wat die situasie as ‘n veilligheidsrisiko vir hul ondernemings beskou.

“Verskeie van ons ondernemings het die afgelope tyd reeds herhaaldelik deurgeloop onder ‘n vlaag van inbrake waarin ons gevoelige skade gely het,” het een sakeman vandeesweek gesê. “Met dié mense hier langs ons in die bos, kan ek dit nie waag om snags ongewapen na my sakeperseel te kom nie.” Kommer is ook uitgespreek oor die brandgevaar wat die oop vure op die dorpsmeent veroorsaak en die besoedeling, ook van die naasliggende dorpsrivier, weens die gebrek aan sanitasiegeriewe vir so ‘n groot getal mense.

Die voorsitter van die nuutgestigte hulporganisasie A Helping Hand  in Louis Trichardt, mnr. Gladstone Dzukuso, het vandeesweek beklemtoon dat die deeglike versorging van hawelose mense ‘n beduidende bydrae tot die bekamping van misdaad maak. Hy het die sakegemeenskap uitgenooi om behulpsaam te wees met steun aan projekte om kos en geskikte skuiling aan haweloses in Louis Trichardt beskikbaar te stel. Hy het die hoop uitgespreek dat Louis Trichardt se munisipaliteit met deernis aandag aan die behoefte van alle haweloses -  insluitend die Zimbabwiërs – sal gee. A Helping Hand het die afgelope Sondag gekookte kos aan die vlugtelinge in die bos gaan uitdeel, nadat hulle ook van die vlugtelinge gehelp het om by die kerke van hul keuse uit te kom vir Sondag se eredienste. Aan sowat 40 is, op hul versoek, vervoer verskaf na die erediens in die St. Mark’s Anglikaanse gemeente op Louis Trichardt. Tien het vroeër die diens in die plaaslike Metodiste gemeente bygewoon.

 A Helping Hand  kan geskakel word by 078 230 9710 (Gladstone) of 078 865 1887 (Mfudzi).

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines