ADVERTISEMENT:

 

Boere beklemtoon belangrikheid van voedselsekerheid

 

News  Date: 26 September 2008

 

In ‘n tyd waarin voedselsekerheid een van die hoof probleme van die dag is, het die TLU SA kongres gehou met die tema “Ons boer in Afrika”.

Die plaaslike landbou-unie, TLU SA Levubu het die kongres, wat vanaf 3 tot 4 September by die WNNR in Pretoria aangebied is, meegemaak.

“Ek dink juis in ‘n tyd van voedseltekorte en onsekerheid, dobbel die regering met stabiliteit binne Suid-Afrika deur die landbou ideologies te wil rig. ‘n Honger mens is ‘n onstabiele mens wat net die negatiewe van ‘n regering se onvermoë ervaar en dit kan in die toekoms vir Suid-Afrika baie probleme veroorsaak,” sê die woordvoerder van die Levubuvallei Boerevereniging na afloop van die kongres.

Die belangrike rol en betekenis van die kommersiële boer om te voorkom dat Suid-Afrika die voorbeeld van ander Afrikalande volg wat betref toenemende hongersnood en armoede, is tydens die kongres uitgewys. Toekomsgerigte beplanning, voorkomende onderhoud en die verbetering van produksie en produktiwiteit is kritiese faktore.

 Een van die besluite van die kongres lui dat “TLU SA moet toesien dat die regering in hierdie tyd van ‘n wêreldwye vraagteken oor voedselsekerheid sal besef dat die blanke kommersiële boere sy grootste bydrae is en dat die regering sal ophou om ‘n negatiewe beeld van die boere op emosionele wyse die wêreld in te stuur.”

TLU SA is die oudste landbou-unie in die land en bestaan reeds sedert 1897.

Nog ‘n aspek wat by die kongres aangespreek is, is die uitwerking van onteiening (ter aanvulling van restitusie wetgewing) op die ekonomie.

TLU SA het ‘n besluit geneem wat sy lede se wettige en legitieme eienaarskap van grond bevestig. Die nuutverkose leierskap van die unie is versoek om die geskiedenis van grondverkryging ondubbelsinnig en bo verdenking te verdedig.

“Wat die veiligheid betref, is dit nog steeds kommerwekkend en is ons mense nog blootgestel aan aanvalle met die grootste aggressie en disrespek vir lewe, waarvan die brutale maniere van moord vanself spreek,” sê Annari Muller van die Levubuvallei boerevereniging. TLU SA het tydens die kongres bevestig dat dit die regering se verantwoordelikheid bly om na die veiligheid van Suid-Afrika se inwoners om te sien. Aanvullend daartoe tref lede streng maatreëls ten opsigte van hul veiligheid.

 Wat fasiliteite en dienste betref, word strukture en lede aangemoedig om self verantwoordelikheid te neem vir die daarstelling van kritieke fasiliteite en dienste soos instandhouding van paaie en skepping van alternatiewe energiebronne. Die plaaslike landbou-unie steun die Soutpansberg Belastingbetalersvereinging (SBBV) in hul pogings asook in hul  dispuut teen die plaaslike munisipaliteit.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines