ADVERTISEMENT:

 

Vlamme bedreig die woning van mnr. Hendrik Barkhuizen op Levubu tydens die verwoestende veldbrand verlede Woensdag. Die vuur is letterlik reg langs sy huis gestop. Foto: Ralda van Wyk

Gemeenskap span saam om vlamme-aanslag te stuit

 

News  Date: 03 October 2008

 

In wat beskryf word as een van die ergste veldbrande wat die streek nog getref het, moes talle lede van die boeregemeenskap op Levubu verlede Woensdag magteloos toekyk hoe die vlamme weiding en eiendom voor hul oë verswelg.

“Almal het gelos waarmee hulle besig was om te kom help. Levubu ken nie sulke groot vure nie,” was die woorde van mnr. Werner Muller, voorsitter van die Levubu Boerevereniging. Selfs mev. Ralda van Wyk (wat die meegaande foto geneem het) sê sy het vinnig besef dat sy maar die kamera moet gaan bêre. Sy het ‘n slaanding gegryp en toe saam met die manne die vlamme aangedurf wat in daardie stadium toe die foto geneem is, ‘n woning bedreig het.

Verlede Woensdag het soos enige vakansiedag stil en rustig begin met geen vure in sig nie. Teen 13:00 het die vlamme begin woed (sommer drie afsonderlike vure). Muller sê dat alhoewel hulle dit nie kan bewys nie, alles daarop dui dat brandstigting moontlik die oorsaak kan wees.

“Dit is nie toeval dat drie brande tydens etensuur op ‘n snikhete publieke vakansiedag sommer net ontstaan nie,” sê Muller.

Die verwoestende veldbrand, wat in sentraal Levubu begin het, het vinnig versprei, aangeblaas deur ‘n sterk wind. Groot skade is aan weiding en boorde aangerig, maar vir baie was die skade veel erger. Op die oewer van die Levubu-rivier kon mnr. Piet Lourens net toekyk hoe die vlamme die pragtige karavaanpark en gewilde kuierplek op sy plaas in puin lê. Die grasdaklapa, spogkroeg, houtdek oor die rivier en restaurant is tot op die grond afgebrand.

Muller sê dat die vlamme op plekke oor die boomtoppe gehardloop het.

“Daar was geen manier waarop die vlamme gekeer kon word nie as gevolg van die sterk wind wat gewaai het. Mango-, piesang- en koejawelboorde is verwoes of beskadig,” sê Muller. Volgens hom is dit die eerste keer vandat hy in Levubu woon dat boorde beskadig of verwoes is. Een boer het ‘n paar weke gelede besproeiingspype ingesit, wat nou alles vernietig is.

Verlede Woensdag se brand was egter nie die eerste groot brand in Levubu vir die seisoen was nie. ‘n Paar weke gelede was daar brande by saagmeulens. Die brande kon egter gestop word voordat dit die saagmeulens self bereik het. ‘n Tweede brand verlede Donderdag het verdere skade aangerig en onder meer ‘n groot deel van mnr. Andries Botha se grond sowel as ‘n grasdaklapa vernietig.

“Ek wil net almal bedank wat gehelp het om die vure te kom help veg – selfs tot in die middel van die nag,” sê Muller.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines