ADVERTISEMENT:

 

‘n Erg ongelukkige mev. Inga Gilfillan van die Soutpansberg Skermutseling- en Er-fenisstigting staan by die nou leë spasie waar die geelkoperplaat met die geskiedenis van Fort Hendrina daarop eens was. Die plaat is die afgelope week gesteel.

Fort Hendrina is haar koperplaat kwyt

 

News  Date: 03 October 2008

 

Inwoners van die Soutpansberg sal sekerlik die politieke storm onthou wat in September 2005 gevolg het ná die standbeeld van Makhado op Louis Trichardt gevandaliseer is toe iemand dit in die drie primêre kleure van die ou Suid-Afrikaanse vlag gaan verf het.

Ook op nasionale vlak het die voorval opspraak gemaak, met politici wat nie kon wag om klappe links en regs uit te deel nie. Destyds het senior lede van die Makhado Munisipaliteit selfs sover gegaan om die optrede as “barbaars” en ‘n “belediging” te beskryf. ‘n Staalheining is feitlik dadelik om die standbeeld opgerig en daar is selfs ‘n sekuriteitswag aangestel om die beeld op te pas. Vanaf owerheidsvlak was daar selfs spesiale optrede om die voorval te ondersoek en die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die afgelope week het nog ‘n monument van geskiedkundige waarde deurgeloop. Iemand het die groot geelkoperplaat met die geskiedenis van Fort Hendrina daarop, vanaf die fort in die munisipale tuine op Louis Trichardt gesteel. Die fort is nie net ‘n gewilde toerismebesienswaardigheid nie, maar weliswaar ook ‘n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid.

Maar, anders as die destydse bohaai wat gevolg het op die verfpetalje, lyk dit of daar geen erns by die munisipaliteit is om hierdie skending van ‘n belangrike deel van die streek se kultuurerfenis aan te spreek nie. Op navraag oor wat die munisipaliteit beoog om te doen ten opsigte van die diefstal, het die Makhado munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, Dinsdag gesê hy weet nie eers dat die plaat gesteel is nie. Tydens ‘n opvolgoproep Woensdagoggend het Bobodi gesê hy kon nog glad nie aandag skenk aan die medianavraag nie, aangesien hy baie besig is.

Alhoewel die diefstal van die gedenkplaat, moontlik vir die verkoop daarvan aan ‘n gewetenlose skrootmetaalhandelaar, blykbaar nie baie hoog is op die munisipaliteit se prioriteitslys nie, is dit wel ‘n baie teer saak vir die Soutpansberg Skermutseling- en Erfenisstigting. Die stigting het by monde van mev. Inga Gilfillan en bekende plaaslike toerleier mnr. Charles Leach reeds aangedui dat hulle die munisipaliteit verantwoordelik gaan hou vir die vervanging van die plaat.

“Hulle het gebruik gehad van die struktuur en was verantwoordelik daarvoor,” het Leach gesê.

Leach is veral agterdogtig oor wie vir die diefstal verantwoordelik was. Die fort is vir die publiek en selfs vir die erfenisstigting gesluit, met slegs die munisipaliteit wat ‘n sleutel vir die slot het. Die fort is onder meer al deur die munisipaliteit as stoorplek vir tuingereedskap gebruik. Te spyte daarvan dat die fort gesluit word, dui alles daarop dat iemand van binne die plaat losgeskroef en verwyder het. Aan die buitekant van die plaat is die skroewe versink. Daar is ook geen aanduiding dat iemand van buite die plaat afgeforseer het nie.

Fort Hendrina is ‘n belangrike besoekpunt op die gewilde Soutpansberg Skermutselingstoer. Verlede week het Leach en sy toergroep nog die monument besoek en was die plaat steeds daar.

Die ou staalfort is in 1969 deur mnr. W. Menne aan die munisipaliteit geskenk. Dit is vernoem na die vrou van Generaal P.J. Joubert. Die fort is een van drie wat in 1886 deur die destydse regering van die ZAR bestel is. Die fort is in 1888 op die plaas Klipdam (naby Polokwane) opgerig en daarna verskeie kere verskuif. Gedurende die 19de eeu het die fort ook vir ‘n kort tydjie op die plek gestaan waar dit tans is, as deel van ‘n artilleriekamp van die ZAR.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines