ADVERTISEMENT:

 

Geen hawe vir plaaslike asielsoekers

 

News  Date: 03 October 2008

 

Vooruitsigte vir die toenemende getal Zimbabwiese asielsoekers wat op Louis Trichardt vasval, is nou aansienlik swakker as wat dit was voordat die Makhado Munisipaliteit verlede week begin vergaderings belê het om oor die aangeleentheid te besin.

Die vergaderings het tot dusver verwarrende teenstrydighede opgelewer. Terwyl amptelik niks gedoen word om die stroom hawelose vreemdelinge ordelik te ontvang, te akkommodeer en by te staan nie, moes die vergaderings van die verteenwoordigers van binnelandse sake verneem: Daar is ‘n vlugtelingkamp op Musina waar die mense versorg kan word en hulle moet almal onverwyld verplig word om daarheen te gaan; Hulle verkeer tans onwettig op munisipale grond en die SAPD en SAW moet versoek word om die nodige wetstoepassing te doen; en Aangesien die mense as onwettige immigrante beskou word (ongeag die feit dat die meeste van hulle asielsoeker dokumente het), is dit ontoelaatbaar vir enigiemand om enige hulp, insluitende kos, aan hulle te gee. Plaaslike liefdadigheidsorganisasies is regstreeks aangesê dat hulle voedselverskaffing en enige ander vorm van versorging aan die mense onmiddellik moet staak. ‘n Versoek van die gemeenskap dat ‘n vlugteling ontvangsentrum op Louis Trichardt oorweeg moet word, is afgemaak met die stelling: “Die departement kan nie sulke kantore op elke straathoek inrig nie.”

Dié verklarings deur verteenwoordigers van die departement van binnelandse sake en die SAPD se aanduiding dat grootskaalse deportasie van Zimbabwiërs aggressief voortgesit word, ten spyte van die skrikwekkende situasie in daardie land, het welmenende voorstelle uit die gemeenskap gekelder. ‘n SAPD woordvoerder het op die vergadering aangekondig dat  “ons” tans tussen 800 en 1000 Zimbabwiërs per week deporteer na Zimbabwe, waar voortgesette politieke konflik, ekonomiese chaos en landwye hongersnood reeds dreig. Volgens amptelike ramings sal meer as die helfte van die land se 11miljoen inwoners binne die volgende drie maande aan hongersnood onderwerp wees. Massiewe voedselnood word veral reeds in die suide van die land beleef.

Die Louis Trichardt-gemeenskap was met die eerste vergadering eenstemmig dat die hawelose vreemdelinge uit Zimbabwe, waarvan die meeste die 100km vanaf Musina te voet afgelê het, met deernis en menslikheid behandel moet word en dat daar dringend gekyk moet word na ‘n alternatiewe perseel waar hulle tussentyds ordentlik versorg kan word, totdat hulle instaat is om na hul bestemmings by familie en vriende elders in Suid-Afrika te vertrek. Die openlike vyandiggesindheid van amptenare van binnelandse sake op die vergadering het onmiddellik ‘n amptelike einde aan pogings in dié verband gebring en die munisipaliteit verward laat besluit om liewers aandag te gee aan ‘n “gebeurlikheidsplan,” met die oog op die “moontlikheid van ‘n massa-instroming van Zimbabwiërs na Louis Trichardt.”

Dié besluit het gevolg, nadat ‘n ernstige leemte in die gebeurlikheidsbeplanning van die Vhembe Distriksmunisipalileit aan die lig gekom het. Dit wil voorkom asof Louis Trichardt en die Makhado Munisipaliteit se plaaslike rampbestuurspan heeltemal oor die hoof gesien is in die vooraf beplanning van rampbestuur in die aanloop tot die huidige toestroming uit die buurland. Vhembe se omvattende gebeurlikheidsbeplanning, waarin alle waarskynlike rolspelers, hul bydraes en ‘n tydsraamwerk uiteengesit is, het hoofsaaklik op die situasie op Musina gekonsentreer. 

Volgens ‘n opname verlede week bestaan die haweloses uit 134 mans vrouens en kinders, waarvan 110 graag wil aanbeweeg na hul mense elders in Polokwane, Pretoria, Johannesburg, Witbank, Durban, Port Elizabeth en Kaapstad. Net 24 het aangedui dat hulle graag plaaslik wil aanbly en werk soek. Onder hulle is ‘n gekwalifiseerde onderwyser en ‘n jongman met akademiese en praktiese kundigheid in verband met natuurlewe en omgewingsbewaring.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines