

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 October 2008
Laatslapers wat versuim het om betyds aansoek te doen om hernuwing van hul vuurwapenlisensies kan hulself binnekort in die hof bevind.
Tans is die polisie besig om mense links en regs aan te kla. Die afgelope paar weke is tientalle vuurwapeneienaars op Louis Trichardt en omstreke reeds gedagvaar om in die hof te verskyn, nadat hulle laat aansoek gedoen het om hernuwing.
“Talle persone word tans in ons dorp aangekla in terme van bogenoemde artikel. Daar word aangevoer dat hulle versuim het om aansoek te doen vir hul vuurwapenlisensies, alhoewel hulle net laat aansoek gedoen het,” sê Naudé. Sy meen egter die wet is ondergeskikte wetgewing en kan eers vanaf 31 Junie volgende jaar afgedwing word wanneer die wetgewing in werking tree.
“Hoe kan jy iemand aankla op grond van ‘n wet wat nog in die toekoms moet in werking tree?” is Naudé se argument. Sy meen verder dat daar slegs ‘n boete opgelê kan word vir laat aansoek om hernuwing.
“Dit is tans nog nie duidelik of die sake deur die Nasionale Vervolgingsgesag teruggetrek gaan word nie, maar dit sou wys wees en ons is van mening dat dié drastiese stappe teen persone wat laat aansoek gedoen het ‘n bietjie uit verband geruk is,” sê Naudé. Intussen is die sake teen die persone wat aangekla is, uitgestel hangende die beslissing van die hof of hulle gaan vervolg.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is egter van mening dat hulle optrede geregverdig is. Supt Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig dat hulle vanaf nasionale vlak opdrag gekry het om mense te begin vervolg op grond van laat aansoeke om hernuwing. Sy het aan die hand van ‘n voorbeeld die situasie verduidelik.
“As jy van Januarie tot Maart verjaar, moes jy al in 2006 aansoek gedoen het om hernuwing. Nou doen ‘n ou wat van Januarie tot Maart verjaar nou eers aansoek. Hy het nou die geleentheid om ‘n verskoning in te dien oor hoekom hy laat aansoek doen. Daardie verskonings gaan dan na ‘n oorwegingskomitee toe wat die verskoning aanvaar of verwerp. As jou verskoning verwerp word, word daar dan opdrag gegee aan die polisiestasie om ‘n dossier te open en daardie dossier gaan dan hof toe,” sê Otto.
Otto sê egter dat die oortreding neerkom op ‘n boete en nie op ‘n kriminele oortreding nie.
“Dit is soos as jy aansoek doen om jou bestuurderslisensie en jy doen laat aansoek. Dan betaal jy ‘n boete. Dit werk presies dieselfde ... Dit sal wys, byvoorbeeld as jy ‘n erkenning van skuld betaal, dat jy ‘n boete betaal het. Dit is nie ‘n kriminele rekord nie,” sê Otto.
Wat betref die persepsie by baie vuurwapeneienaars dat hulle nie werklik gehoor hoef te gee aan die afsnydatums ten opsigte van die hernuwingstydperk nie en dat hulle in elk geval kans het tot 31 Maart 2009 om te hernu, het Otto gesê dit is nie die geval nie.
“Nee, as jy nie aansoek doen vir hernuwing van jou lisensie nie, het jy bloot tyd tot Maart 2009 om jou vuurwapen te vernietig of in te handig,” sê Otto. Intussen, sê sy, moet vuurwapeneienaars steeds toesien dat hul betyds aansoek doen om hernuwing van hul lisensies.
Otto het ook ‘n waarskuwing gehad vir vuurwapeneienaars.
“As jy nog nie aansoek gedoen het nie, doen aansoek en betaal liewer die boete as wat jy in Maart 2009 sit met ‘n onwettige vuurwapen,” sê Otto.
Mnr. Jas Brümmer, ‘n plaaslike vuurwapenopleidingsbeampe, het ‘n soortgelyke waarskuwing gehad.
“Persone wat laat is, word nou aangekla. As ‘n persoon reeds opleiding ontvang het ingevolge die nuwe wetgewing, moet hy of sy nie wag voordat hulle by die polisie gaan aansoek doen om hernuwing nie. Deur dit nie te doen nie, stel hulle hulself bloot aan vervolging,” sê Brümmer.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
