ADVERTISEMENT:

 

Buiten vir die mure het bittermin oorbly van die Schoemansdal opelug museum en inligtingsentrum, nadat ‘n brand dit verlede week in puin gelê het.

Was dit brandstigting?

 

News  Date: 10 October 2008

 

Skaars ‘n week nadat Suid-Afrikaners landswyd Erfenisdag gevier het, het ‘n brand by die Schoemansdal opelug museum buite Louis Trichardt ‘n beduidende deel van die Soutpansberg se Afrikaanse, Venda- en Buys-gemeenskappe se kultuurgoedere in puin gelê. Brandstigting kan in hierdie stadium nie uitgesluit word as moontlike oorsaak van die brand nie.

Die brand het verlede Dinsdagmiddag (30 September) onder meer die inligtingsentrum en museum, die bekende hartbeeshuisie en twee hutte verwoes. In die proses het onvervangbare kultuurskatte vir die nageslag verlore gegaan. Die brandweer op Louis Trichardt is ontbied, maar met hul aankoms by die sentrum was die skade reeds gedoen.

‘n Woordvoerder van die provinsiale Departement van Sport, Kuns en Kultuur, me. Adel van der Linde, het by navraag gesê die skade wat deur die brand aangerig is, beloop tussen twee en drie miljoen rand. Sy het ook bevestig dat daar tans ‘n polisie-ondersoek aan die gang is oor die oorsaak van die brand, aangesien die brand by die inligtingsentrum en museum ontstaan het. Aanvanklik is vermoed dat ‘n veldbrand van elders die oorsaak was van die skade.

“Die polisie ondersoek nog die saak. In hierdie stadium kan ons nie sê hoe of wie die brand begin het nie,” het Van der Linde Dinsdag gesê. Sy het egter onderneem om die Zoutpansberger op hoogte te hou van die polisie se ondersoek.

Intussen het verskeie kultuurorganisasies en verenigings met ontsteltenis verneem van die brand.

“Daar word ‘n dringende beroep gedoen op die departement om so gou moontlik die ondersoek af te handel, maar ook om die ondersoek in ‘n deursigtige manier te hanteer. Dit sal ‘n kwade dag wees indien so ‘n groot verlies op ‘n lukrake wyse hanteer word,” was die reaksie van die voorsitter van die TLU SA, mnr. Jan Viljoen. Hy was ook krities oor die wyse waarop die huidige regering bestaande kultuurgoedere bewaar.

“Die huidige regering doen min om kultuurgoedere op te pas en te behou vir die geslagte wat kom. Dit is nie die eerste museum wat verwoes of verwaarloos word nie,” sê Viljoen. Hy het aangedui dat dit tyd geword het vir mense om self hul eie kultuurskatte te bewaar.

“Dit is skokkend. Ons spreek die hoop uit dat die museum herbou sal word en dat soortgelyke artefakte soos dié wat in brand verlore gegaan het, vervang sal word. Dit is belangrik dat hierdie belangrike toerisme besoekpunt in die Soutpansberg behoue sal bly vir die nageslag,” was die reaksie van mev. Inga Gilfillan van die Soutpansberg Skermutseling- en Erfenisstigting.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines