

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Siviele eis van altesaam R29 600 deur plaaslike sakeman Essie Esterhuizen teen sakeman John Smith is hier deur Hooflanddros Sakkie Scheepers toegestaan.
Die eis het voortgespruit uit 'n geskil rondom 'n motorboot met die naam "Gerpie," wat in 'n stadium in Mosambiek benut en later verkoop is. Smith se regsverteenwoordiger het kennis gegee van 'n voorneme om te apelleer.
In sy eisstukke het Esterhuizen aangevoer dat hy en Smith gesamentlik die boot en sleepwa in 2001 vir R48 000 aangekoop het. Elkeen het R24 000 vir 'n 50% aandeel bygedra. Volgens sy pleitstuk sou die boot in Mosambiek gehou word vir altwee van hulle se gebruik, met vooraf onderlinge reëling. Die boot sou in sy naam geregistreer word en hy sou verbeterings aan die boot na goeddunke kon aanbring op sy eie koste. Hy het R4 000 se verbeterings aanbring.
Hy het aangevoer Smith het die gesamentlike eienaarskapsooreenkoms in 2002 beëindig deur die boot sonder sy toestemming of medewete uit Mosambiek te verwyder en te verkoop. Hy het die helfte van die verkoopsom plus die verbeteringskoste geëis.
Smith het ontken dat hy Esterhuizen enigiets skuld. Hy het aangevoer dat hy skade van meer as R32 000 gely het. Hy sê die boot is nie vir R48 000 nie, maar vir R49 000 aangekoop, maar dat Esterhuizen versuim het om sy deel van die aankoopprys (R24 500) te betaal. Hy het ontken dat ooreengekom is om die boot op Esterhuizen se naam te registreer en dit na Mosambiek te neem. Volgens hom was die ooreenkoms dat die boot in Louis Trichardt by Esterhuizen se perseel in Krugerstraat gehou sou word. Hy het gesê Esterhuizen het die boot sonder sy toestemming of medewete uit die land verwyder. Om sy belange te beskerm, was hy verplig om opspoorders opdrag te gee om die boot te vind. Hy sê hulle het dit by Bartholomeus Diaz Strand in Mosambiek gekry, waar dit versteek was. Die opsporingskoste alleen beloop R20 520. Hy moes na Mosambiek vlieg en die koste het R3 100 beloop. Om sy skade te beperk, het hy die boot vir R40 000 verkoop. Sy skade is bereken deur die verkoopprys van die boot af te trek van die oorspronklike koopprys, tesame met die opsporings- en vliegkoste. Dit beloop R32 620. Sy teeneis is met koste van die hand gewys.

ADVERTISEMENT:
