

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2008
Mnr. Gideon Meiring, die Transvaalse Landbou-unie (TLU) SA se nasionale voorsitter vir veiligheid en sekuriteit, het vandeesweek weer bevestig dat hulle hul lede aanraai om nie hul vuurwapenlisensies ingevolge die nuwe wet op vuurwapenbeheer, Wet 60 van 2000, te hernu nie.
Meiring het gereageer op ‘n artikel in verlede week se uitgawe van die Zoutpansbeger waarin genoem word dat die polisie begin het om vuurwapeneienaars wat laat aansoek gedoen het om hernuwing van hul lisensies te dagvaar om in die hof te verskyn. Talle plaaslike vuurwapenienaars wat versuim het om betyds te hernu en wie se verklarings oor waarom hulle laat hernu het verwerp is, het reeds ‘n draai in die hof gaan maak. Die sake is egter uitgestel in afwagting op ‘n beslissing van die hof of daar vervolg gaan word of nie.
“Ons standpunt is steeds dat ons huidige vuurwapenlisensies wettig bly totdat die nuwe wet in Junie 2009 in werking tree. Daar is nie ‘n manier waarop daar ‘n hofbeslissing sal kom teen ‘n persoon wat laat hernu het nie,” sê Meiring. Meiring se standpunt rondom vervolging stem ooreen met die mening van ‘n plaaslike prokureur, me. Marisa Naudé, wat sê ‘n persoon kan nie vervolg word ten opsigte van ‘n wet wat nog in die toekoms inwerking moet tree nie. Naudé verteenwoordig twee van die talle plaaslike vuurwapeneienaars wat reeds in die hof moes verskyn omdat hulle laat hernu het.
“Ons adviseer ons lede om hoogstens die opleiding te doen ten opsigte van die voorgestelde nuwe wetgewing en dan om die papierwerk te gaan bêre en ‘n ‘wag en sien’ beleid in te neem,” sê Meiring.
Wat die nuwe wetgewing in geheel betref, sê Meiring dat dit lynreg indruis teen landsburgers se grondwetlike regte.
“Ons land se grondwet waarborg immers privaatbesit en hierdie wetgewing is ‘n blatante aanslag op privaatbesit,” sê Meiring. Hy is ook skepties of die polisie in elk geval oor die vermoë beskik om voor Junie 2009 alle aansoeke om hernuwing te verwerk. Hy het aan die hand van statistieke wat deur die voormalige minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, die week van 21 tot 25 April in die kabinet voorgelê is, sy standpunt verduidelik. Nqakula het gesê dat die polisie vanaf 2004 tot 2007, totaal van 420 805 aansoeke om bevoegdheidsertifikate en 601 728 hernuwingsaansoeke ontvang het. Dit terwyl daar, volgens Meiring, ongeveer 2 miljoen vuurwapeneienaars is wat nog bevoegdheidsertifikate moet kry en sowat 4 miljoen vuurwapens voor Junie 2009 geherlisensieer moet word.
“Daar is nie ‘n manier wat hulle dit gaan regkry nie,” sê Meiring.
Meiring sê dat die nuwe wetgewing ook daarop gemik is om privaat persone te ontwapen. In dié verband beskryf hy die nuwe wetgewing as onverantwoordelik.
“Dit sou onverantwoordelik wees, gesien in die lig van die huidige misdaadsituasie in die land en die polisie se onvermoë, om mense te ontwapen en van hulle sagte teikens te maak,” sê Meiring. Hy het veral verwys na die lot van die land se boerderygemeenskap. Hy het genoem dat plaasaanvalle die afgelope jaar met 25% gestyg het en dat, gesien in die lig van die wreedheid en geweld wat met hierdie aanvalle gepaard gaan, Suid-Afrikaanse boere sekerlik die gevaarlikste beroep in die wêreld het. Hierdie en ander statistieke en aanbevelings rondom die voorgenome nuwe wetgewing het Meiring tydens ‘n hoëvlak vergadering met die voormalige president, mnr. Thabo Mbeki, bespreek op 20 Mei vanjaar.
“Ons hanteer hierdie kwessie op die hoogste vlak moontlik. Ons sal nie ons mense in ‘n proses inlei waar ons onseker is van die uiteinde nie,” sê Meiring.
Dit is duidelik dat die kontroversie rondom die nuwe wet op vuurwapenbeheer nog ver van verby is. Intussen wag die Zoutpansberger nog op ‘n amptelike verklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag insake die dagvaarding van persone wat laat hernu het. Die Vervolgingsgesag se nasionale woordvoerder, mnr. Tlali Tlali, het Dinsdag by navraag gesê dat ‘n verklaring reeds voorberei is, maar dat hy ongelukkig nog wag vir goedkeuring daarvan van sy hoof, adv. Mokotedi Mpshe.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
