

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2008
Baba Nathan Puth, wat met ‘n hartdefek gebore is, word vier maande oud en is heeltemal gesond!
Die merkwaardige storie van die Puth-gesin van Louis Trichardt het deur middel van die Internet die land deurtrek en oral is mense vervul met verwondering en dankbaarheid vir die wonderwerk.
Die afgelope naweek was die Puths weer in die dorp en is daar behoorlik oor Nathan gekoer. Klein Nathan kyk met sy groot blou ogies asof hy als verstaan en glimlag breed.
Met sy rooi haartjies lyk hy baie na pa Martin. Ma Marlien hou nie vir ‘n oomblik op glimlag met haar klein wonderwerkie op die skoot nie. Hy het twee weke tevore die skaal op 6kg getrek.
Nathan is op 17 Junie gebore met hartvate wat omgeruil is. Dit het beteken dat suurstofarm bloed deur sy liggaampie gesirkuleer het in plaas van suurstofryke bloed. Daar is ook gesê dat hy totale hart-, nier- en lewerversaking het. ‘n Tydperk van behandeling en operasies het gevolg. By minstens twee geleenthede het die medici van die Unitas hospitaal in Pretoria te kenne gegee dat daar niks meer is wat hulle vir klein Nathan kan doen nie.
“Ons het geleer om nie na mense te luister nie en net op God te vertrou. Ons het ook geleer om nie moedeloos te raak nie. As Martin nie aangehou het nie, sou Nathan nie vandag hier gewees het nie,” sê Marlien.
Martin het op die Internet gesoek en afgekom op die Walter Sisulu fonds vir kinders met hartgebreke. Daarvandaan het hulle in kontak gekom met die pediatriese kardioloog by die Sunninghill Hospitaal in Johannesburg, wat ingewillig het om dadelik oor te ry na Pretoria om Nathan te ondersoek. Nathan is dieselfde dag (9 Augustus) oorgeplaas na Sunninghill en die span spesialiste het ‘n vyf-uur-lange middernagtelike operasie uitgevoer om die hartvate terug te ruil. Sy kans op oorlewing was 50%, het die dokters gesê.
Nathan, wie se naam beteken “Geskenk van God,” het oorleef.
Hy het al sterker geword en is op 23 Augustus ontslaan. Nou is dit pajamadril en hou Nathan sy ouers goed besig. Gelukkig is ouma Stephanie daar om te help, want die Puths bly die meeste van die tyd in Randurg by hulle aan huis.
Tydens die lang verblyf in Gauteng het Martin die senior opmetingspos by ‘n padprojek daar gekry. Tans besoek hulle Louis Trichardt elke tweede naweek.
“Ek is eintlik nou op soek na ‘n opmeter om die werk op die westelike verbypad oor te neem,” sê Martin.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
