ADVERTISEMENT:

 

Raad en brandweer stamp koppe oor swembad

 

News  Date: 17 October 2008

 

‘n Gebrek aan kommunikasie tussen die Makhado Munisipaliteit en die plaaslike brandweer het Dinsdag groot verleentheid veroorsaak vir ‘n inwoner wat bloot prosedure gevolg het.

Sowat twee weke gelede, te midde van die streng waterbeperkings in Louis Trichardt, het die inwoner aansoek gedoen by die munisipaliteit om sy swembad vol te maak. Die munisipaliteit het hom egter verwys na die plaaslike brandweer, met die verduideliking dat dit eintlik die brandweer se taak is. Die brandweer het op hulle beurt ingestem.

Dinsdag het die brandweer by die persoon se woning opgedaag, hul brandslange aan die brandkraan gekoppel en begin om die swembad vol te maak. Dit was egter nie lank nie of ‘n buurman het opgemerk dat die swembad volgemaak word ten spyte van herhaalde versoeke deur die munisipaliteit dat swembaddens weens die dorp se huidige waterkrissis onder geen omstandighede gevul mag word nie. Kort daarna het ‘n munisipale beampte die brandkraan gaan toedraai.

By navraag het die plaaslike brandweerhoof, mnr. Jack Ramalatso, Woensdagoggend gesê dat hulle wel getaak is om mense se swembaddens vol te maak. Hy het verduidelik dat hulle nie kan weier om iemand se swembad te vul nie, aangesien dié spesiale funksie in hul regulasies vervat word. Die regulasie stipuleer onder meer dat ‘n eenmalige bedrag van R550 deur die eienaar van die swembad betaal moet word, maar die diens word vir jare al gratis verskaf. Die brandweer resorteer nie onder die Makhado Munisipaliteit nie, maar wel onder die Vhembe Distriksmunisipaliteit.

Ramalatso sê dat die munisipaliteit hulle in geen stadium instruksie gegee het om die diens te staak nie, ten spyte van die streng waterbeperkings. Hy sê dat die besluit om die diens te staak ook nie op plaaslike vlak geneem kan word nie, maar deur die Vhembe Distriksmunisipaliteit goedgekeur moet word. Dit, sê hy, kan egter eers gebeur wanneer hulle amptelik instruksie ontvang vanaf die munisipaliteit.

In antwoord op Ramalatso se bewering dat die brandweer op instruksie wag van die munisipaliteit, het Makhado se munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, Woensdagmiddag gesê dit is duidelik dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit nie nodig het om ‘n instruksie van hulle te ontvang nie, aangesien waterverskaffing hulle verantwoordelik is. Sy het toe onderneem om met Ramalatso te praat oor die kwessie. ‘n Kort rukkie later het sy teruggeskakel en gesê dat gebrekkige kommunikasie die oorsaak was van die misverstand ten opsigte van die opvul van swembaddens. Sy sê egter dat sy en Ramalatso intussen tot ‘n vergelyk gekom het en dat die brandweer sal ophou om swembaddens te vul, totdat die waterkrissis afskaal.

Intussen sê die eienaar van die swembad hy voel soos ‘n skurk nadat hy bloot die prosedure gevolg het wat aan hom verduidelik is.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines