

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – ‘n Ernstige geweldsmisdadiger, wat reeds positief met twee moorde verbind word, die 32-jarige Oupa Makhokha, is weer op vrye voet na ‘n ontsnappingsdrama by die polisieselle in Thohoyandou Woensdagoggend.
Makhokha en vyf ander verhoorafwagtendes het omstreeks 01:20 uit die polisieselle in Thohoyandou ontsnap, nadat die twee polisiebeamptes aan diens in die aanhoudingsel oorrompel is. Die polisiebeamptes het gereageer op ‘n noodkreet van een van die aangehoudenes wat klaarblyklik ‘n asma-aanval gekry het. Beide polisiebeamptes is ernstig aangerand, terwyl een met Makhokha se hand- en voetboeie geboei is. Dit is nie seker hoe Makhokha daarin kon slaag om die boeie te verwyder nie. Die voorval het weereens ‘n vraagteken geplaas oor die moontlikheid van polisiebetrokkenheid by die ontsnapping. Laasgenoemde beweringe is egter ten sterkste ontken deur kapt. Ailwei Mushavhanamadi, die polisie se woordvoerder in die Vhembe-area.
Makhokha en sy 36-jarige broer, Lucky Makhokha, is na die moord op ‘n polisieman van Zamekomste, insp. Norman Makatu, in Mei 2003 gearresteer op klagte van moord. Die Staat beweer dat die twee broers die polisieman summier doodgeskiet het, nadat hy gesien het hoe hulle ‘n voertuig kaap en hulle agtervolg het. Hulle sou op 30 November vanjaar in die Hooggeregshof in Thohoyandou verskyn vir uitspraak in die saak.
Op 22 Oktober is die Makhokhabroers egter verkeerdelik borg toegestaan deur ‘n hofordonnans in die streekhof in Thohoyandou, ten spyte daarvan dat die hof aanvanklik borg geweier het. Beide het op ‘n mindere klag in ‘n ander saak verskyn. Die broers het die borg betaal en het verdwyn.
Oupa is Maandagoggend, 29 November, deur lede van die Vhembestreek se blitspatrollie in Makhado (Louis Trichardt) aangekeer, na ‘n wilde jaagtog. Dit volg na ‘n kapingsdrama in Polokwane Sondagaand waartydens die 57-jarige mnr. Pieter du Plessis op sy erf doodgeskiet is en nog ‘n lid van die publiek, die 24-jarige Jurgens Potgieter, ernstig gewond is. Mnr. Du Plessis se rooi Corsa-bakkie is tydens die kaping gebuit.
Die gekaapte voertuig is Maandagoggend, danksy ‘n sattelietopsporingstelsel, in Eltivillas gewaar. Die verdagtes het aanvanklik vir die blitspatrollie probeer wegjaag, maar het in die proses met ‘n voertuig in die Rissikstraat/N1-kruising gebots. Hul voertuig het buite beheer getol en teen ‘n lamppaal tot stilstand gekom. Oupa is op die toneel gearresteer, terwyl ‘n tweede verdagte te voet agternagesit en aangekeer is. Kort daarna is Lucky by sy ouers se huis by Muduluni geherarresteer.
Kapt. Mushavhanamadi het Woensdag gesê dat Lucky nie onder die groep ontsnaptes is nie en steeds in aanhouding is. Hy het Oupa as uiters gevaarlik beskryf en gesê dat lede van die publiek onder geen omstandighede moet probeer om hom aan te keer nie. Teen druktyd kon die polisie nog nie daarin slaag om enige van die ses ontsnaptes vas te trek nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
