

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 October 2008
Inwoners van die Soutpansberg kyk die afgelope paar weke met groot verwagting na die wolke met die hoop dat die sluise van die hemel sal open en ‘n einde bring aan die huidige droogtetoestand. As mens egter luister na die voorspellings, sal daar nog ‘n paar weke gewag moet word vir goeie sommerreën neerslae.
Intussen trek almal maar swaar. In Louis Trichardt is die uitwerking van die droogte duidelik sigbaar as mens kyk na die tuine van mense wat nie oor ‘n boorgat beskik nie. Die streng waterbeperkings, wat die afgelope week ook uitgekring het na Musina, maak die situasie nie makliker nie.
Dit is egter die boere wat die ergste deurloop. Van oraloor word wildvrektes aangemeld, terwyl talle boere reeds begin het om hul wild en vee te voer. Die vlaag veldbrande wat die afgelope paar maande die streek geteister het, het ook heelwat weiding vernietig. Daar is tans reeds sprake dat sommige boere die tydelike aflegging van plaaswerkers oorweeg, vanwee die ekstra kostes wat as gevolg van die droogte teweeggebring word.
“Dit is ‘n snaakse jaar. Daar is nog gras in die veld, maar die gras het feitlik geen voedingswaarde nie. Die ander probleem is dat die bome se blare geval het. Dit is hoekom die koedoes vrek. Hulle sukkel om lusern te eet en selfs al vreet hulle dit, is dit nie die regte voeding wat hulle kry nie. Die bome moet blare hê, anders gaan die blaarvreters baie swaar kry. Dit moet baie, baie vinnig reën,” is die mening van mnr. Willie Roux, afslaer van Vleissentraal Bosveld.
Noord van die Soutpansberg lyk die prentjie maar net so sleg.
“Die droogte beïnvloed ons op groot skaal. Ons voer reeds ons wild, sowat 300 bale lusern per week teen R50 per baal,” sê mnr. Howard Knott van Greater Kuduland Safaris. Hy sê dat wildvrektes reeds by hulle voorgekom het, hoofsaaklik, soos Roux verduidelik het, blaarvreters soos koedoes, njalas en elande.
“Ek sou die situasie as erg beskou, maar ons het al erger gesien. As ons egter nie binne die volgende twee of drie weke reën kry nie, kan die situasie in ‘n baie kort tydjie van erg tot baie erg verander,” sê Knott. Hy meen as hulle darem net genoeg reën kan kry sodat die bome weer kan begin blaar, sal dit al baie beter gaan.
“Ons het nie baie nodig nie. As ons noord van die Soutpansberg net tussen 20mm en 30mm kan kry, sal die blare uitkom, maar as ons nie vinnig hierdie reën kry nie, voorspel ek dat dinge baie erg gaan raak,” sê Knott.
Dat die huidige droogte in die streek begin krisisafmetings aanneem, is ‘n feit. Sedert Februarie vanjaar is die gemiddelde reënval vir Limpopo elke maand onder die gemiddelde reënval vir die streek. Die belofte van reën is egter daar, met donderbuie wat die afgelope week of twee plek-plek begin uitsak het. Dit is egter maar die spreekwoordelike ‘druppel in die emmer’ van wat nodig is om die droogte te breek.
Te midde van die droogte lyk die vlakke van die vernaamste damme in die streek nie sleg nie. Daar is egter damme wat se vlakke besig is om krisisafmetings aan te neem, soos die vlak van die Middel Letabadam wat Maandag op 6,6% gestaan het in vergelyking met die vlak van 14,8% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Die vlak van Louis Trichardt se hoof watervoorsieningsbron het Maandag op net oor die 30% gestaan, teenoor die amper 40% verlede jaar dié tyd.
Maar wat sê die slim mense van die reën?
Volgens mnr. Mark Todd, senior weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, voorspel hul klimatoloë reeds vir ‘n geruime tyd dat die somerreën vanjaar laat gaan begin val. Hy reken dat goeie reënneerslae eers hier vanaf Desember sal begin uitsak, met verdere goeie reënvooruitsigte vir die komende jaar.
“Daar is egter net ‘n woord van waarskuwing. Ons is tans in ‘n neutrale fase wat betref die El Nino en La Nina verskynsel. In tye soos hierdie is ons seisoenale voorspellings nie so akkuraat soos wanneer ons ‘n El Nino of La Nina het nie. Sou ons in een van hierdie fases gewees het, sou ons meer vertroue gehad het in ons voorspelling,” sê Todd.
Vir diegene wat nie weet nie, El Nino is wanneer die see-oppervlakte in die ekwatoriale Stille Oseaan verwarm. Dit het ‘n uitwerking op atmosferiese sirkulasie, wat weer die reënval en temperature in sekere dele van die wêreld beïnvloed. La Nina is weer wanneer die see-oppervlakte in die ekwatoriale Stille Oseaan afkoel en ‘n soortgelyk kettingreaksie tot gevolg het. Wanneer daar dus verwys word na ‘n “neutrale fase” ten opsigte van El Nino en La Nina, beteken dit letterlik dat nie een van die verskynsels op daardie tydstip voorkom nie.
Te midde van die huidige neutrale fase is Todd egter optimisties ten opsigte van hul voorspelling.
“Dit [hul voorspelling ten opsigte van goeie reënneerslae vanaf Desember] is die waarskynlikste gevolg. Die enigste troos ten opsigte van hierdie neutrale fases is dat ons selde uiterstes kry, soos uiterste reën of uiterste droogte,” sê Todd.Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
