ADVERTISEMENT:

 

Oppassers aangestel om drinkwater te beveilig

 

News  Date: 24 October 2008

 

Net toe mense wil begin moed opgee dat die watersituasie in Louis Trichardt ooit beter gaan word, besluit die Makhado Munisipaliteit uiteindelik om mense aan te stel om snags die dorp se waterpompstasies op te pas. Die gevolg is dat water nou nie meer heeltemal so skaars is soos ‘n week gelede nie.

Volgens ‘n munisipale amptenaar gaan dit nou so effe makliker om die reservoirvlakke te beheer, hoewel die situasie ver van normaal is. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die feit dat baie inwoners hulle steeds nie steur aan die waterbeperkings wat ingestel is nie. Die amptenaar sê hulle kry hope klagtes van mense dat hulle bure doodeenvoudig die kritieke situasie ignoreer en voortgaan om hulle tuine met tuinslange na te lei.

“Hierdie mense speel ‘n gevaarlike speletjie. Dis maklik om te sê jou tuin is besig om te vrek, jy kan nie anders as om nat te lei nie. Maar dink bietjie wat gaan jy sê as jy in die hof moet gaan verduidelik hoekom jy belangriker is as die res van die wetsgehoorsame inwoners wat hulle hou by die beperkings. Dan gaan jou argument dat ‘almal dit doen’ of dat jy nie kan staan en kyk hoe jou tuin verdroog nie, niks help nie. Dié beperkings geld vir almal; ons moet dink daaraan dat ons die punt kan bereik waar ons later geen water het nie,” was die waarskuwing wat hy aan inwoners gerig het.

Tog is daar diegene wat glo dat die huidige waterbeperkings “onwettig” is, aangesien dit nêrens per amptelike kennisgewing deur die munisipaliteit aangekondig is nie.

Nie so nie ...

Volgens me. Faith Muthambi, Makhado munisipale bestuurder, is hulle by magte om bloot deur kennisgewings in die koerant, soos telkens reeds in die Zoutpansberger verskyn het, waterbeperkings aan te kondig ingevolge hul Standaard Watervoorsieningsverordening (Administrateurskennisgewing 21 van 5 Januarie 1977).

Hierdie verordening, onder die opskrif Spesiale Beperkings, lees (volledig):

“Die Raad kan te eniger tyd die toevoer van water aan die hele of aan enige gedeelte van die voorsieningsgebied tot tye beperk, al na hy besluit en hy kan verbied dat water vir enige besondere doel of vir enige doel behalwe die bepaalde doel, na gelang van die geval, gebruik word.

“Iemand wat water gedurende tydperke waarin verbruik verbode is, of vir verbode doeleindes, of vir ander doeleindes as dié wat bepaal is, na gelang van die geval, gebruik nadat die verbod deur die raad by openbare kennisgewing bekend gemaak is, is skuldig aan ‘n misdryf ingevolge hierdie verordeninge.

“Vir die toepassing van hierdie artikel, beteken ‘openbare kennisgewing’ ‘n aankondiging in beide amptelike tale in een of meer uitgawes van ‘n nuusblad wat in die voorsieningsgebied gelees word.”

 

Written by

Nic Hoffmann & Andries van Zyl

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines