ADVERTISEMENT:

 

Vuurwapeneienaars gaan nog nie vervolg word nie

 

News  Date: 31 October 2008

 

Sedert die polisie so ‘n paar weke gelede begin het om vuurwapenseienaars links en regs te dagvaar om in die hof te verskyn omdat hulle nie voldoende redes kon verskaf waarom hulle laat aansoek gedoen het om hernuwing van hul lisensies, is daar al baie gesê oor die wettigheid of onwettigheid van die dagvaardings.

Tientalle vuurwapeneienaars in die Soutpansberg moes al ‘n draai in die hof gaan maak, nadat hulle aangekla is in terme van Skedule 1 van Artikel 11(4) van die Wet op Vuurwapenbeheer (Wet 60 van 2000). Die sake is egter deur die hof uitgestel om eers te bepaal of daar teen hierdie persone opgetree gaan word.

Die aksie van die polisie het egter hewige reaksie ontlok van persone wat meen die optrede is onwettig. Tog het die polisie voet by stuk gehou dat hulle by magte is om teen hierdie persone op te tree soos bevestig deur die polisie se provinsiale woordvoerder, supt. Ronel Otto, in ‘n berig hieroor in die Zoutpansberger van 10 Oktober. Terselfdertyd het plaaslike prokureur me. Marisa Naudé van Louis Trichardt aangedui dat hierdie optrede nie regmatig is nie, aangesien die polisie nie iemand kan vervolg op grond van ‘n wet wat nog inwerking moet tree nie. Naudé het in daardie stadium twee vuurwapeneienaars verdedig wat deur die polisie gedagvaar is.

‘n Week na die artikel in die koerant verskyn het, het die Transvaalse Landbou-unie SA se nasionale voorsitter vir veiligheid en sekuriteit, mnr. Gideon Meiring, ook die optrede van die polisie gekritiseer en selfs sover gegaan om mense aan te raai om nie te hernu nie.

“Ons adviseer ons lede om hoogstens die opleiding te doen ten opsigte van die voorgestelde nuwe wetgewing en dan om die papierwerk te gaan bêre en ‘n ‘wag en sien’ houding in te neem,” het Meiring gesê.

Talle het egter nie met Meiring saamstem nie, soos die Bosveldjagters- en wildbewaringsvereniging (BJV).

“Dit is elkeen se goeie reg om te maak soos hy wil, maar ons wil tog die publiek aanraai om voort te gaan met herlisensieëring. Meeste van ons lede is reeds redelik pynloos deur die proses begelei en talle het reeds suksesvol hergelisensieer en ander het vir nuwe vuurwapens hul nuwe lisensies ontvang.”

Dit was die kommentaar van mnr. Frans Heinlein, voorsitter van die BJV se Soutpansberg-tak. Hy het verder, by wyse van ‘n verklaring, vuurwapeneienaars aanbeveel om eerder met geakkrediteerde verenigings in verbinding tree indien mense inligting of raad soek.

Intussen het dit aan die lig gekom dat die hof besluit het om nie te vervolg wat betref vuurwapeneienaars wat ingevolge die nuwe wet gedagvaar is nie. Naudé het bevestig dat die saak teen beide haar kliënte verlede week teruggetrek is.

So, waar los dit nou die gewone man op straat? Moet daar hernu word, of kan daar maar gewag word tot 30 Junie 2009 wanneer die nuwe wet amptelik in werking tree?

Om duidelikheid te kry, het die Zoutpansberger die Nasionale Vervolgingsgesag se nasionale woordvoerder, mnr. Tlali Tlali, genader vir kommentaar.

In ‘sy verklaring verduidelik Tlali dat Skedule 1 van die wapenwet sekere oorgangsmaatreëls bevat. Afdeling 1 van die skedule maak voorsiening daarvoor dat bestaande vuurwapenlisensies geldig bly tot 30 Junie 2009. Afdeling 11 van die betrokke skedule maak egter weer voorsiening dat die lisensiehouer moet hernu ingevolge die wet “binne die tydperk vasgestel deur die minister”. Dit is hier waar die geboortedatum van elkeen ‘n rol speel met betrekking tot die tydperk waarin hulle kan hernu.

Tlali sê Afdeling 11 van die skedule maak slegs voorsiening vir die prosedure wat gevolg moet word en handel nie oor die wettigheid van bestaande lisensies nie. Hierdie skedule, sê hy, is daargestel bloot om die proses van hernuwing te vergemaklik.

“Sou ‘n lisensiehouer versuim het om sy lisensie binne die vasgestelde tydperk te hernu, mag hy nie, tensy hy genoegsame redes kan verskaf waarom hy laat aansoek doen om hernuwing, later aansoek doen om hernuwing nie. Hy mag egter ingevolge Afdeling 1(2) van Skedule 1 wettiglik ontslae raak van sy vuurwapen voor 30 Junie 2009,” sê Tlali. Hy benadruk egter dat ‘n persoon wat versuim het om vroegtydig sy/haar lisensie te hernu, nie skuldig is aan ‘n oortreding nie en dat hulle bestaande vuurwapenlisensis steeds tot 30 Junie 2009 wettig bly.

“’n Persoon kannie en mag nie vervolg word op grond van die onwettige besit van ‘n vuurwapen omdat hy/sy versuim het om binne die vasgestelde periode te hernu nie. Sy/hy mag nie eers administratiewelik ‘vervolg’ word nie … aangesien die lisensie wettig bly tot 30 Junie 2009. Hy/sy het steeds die reg om te besluit om wettiglik ontslae te raak van sy/haar vuurwapen voor die datum soos vasgestel deur die wet,” sê Tlali. Derhalwe, sê Tlali, mag die polisie nie persone wat versuim het om te hernu arresteer, dagvaar of waarsku om in die hof te verskyn nie, aangesien hulle in hierdie stadium nog geen oortreding gepleeg het nie. Persone sal slegs vervolg kan word as hulle na 30 Junie 2009 nog nie hernu het nie. Hulle sal dan ook onwettig in besit wees van hul vuurwapens indien hulle nie hul lisensies hernu het nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines