ADVERTISEMENT:

 

Gevalle van hondsdolheid aan die toeneem

 

News  Date: 31 October 2008

 

‘n Toename in die gevalle van hondsdolheid in die Soutpansbergstreek het weereens die belangrikheid beklemtoon van vroegtydige inenting van diere teen hierdie gevreesde siekte wat noodlottige gevolge kan inhou vir mens en dier.

Volgens dr. Piet Loock van die Departement Veeartsenydienste op Louis Trichardt was daar die afgelope twee maande ‘n toename in die gevalle van hondsdolheid, veral in die gebiede oos van Louis Trichardt, wat insluit Thohoyandou tot by die Kruger Nasionale Park. Alhoewel die hondsdolheid endemies is aan die area, sê Loock dat die probleem vererger word weens die groot getal rondloperhonde in hierdie gebiede. Te midde van talle projekte wat reeds sedert 2006 in bedryf is om mense op te voed ten opsigte van die siekte, blyk dit egter dat baie troeteldiereienaars hulle steeds nie steur aan die moontlike noodlottige gevolge wat die siekte inhou nie. Wanneer ‘n persoon of dier ‘n stadium bereik waar daar reeds kliniese simptome van hondsdolheid sigbaar is, sê Loock, is daar min hoop op oorlewing.

Eerste aanduidings van die siekte is onnatuurlike gedrag. So byvoorbeeld kan rondloperhonde begin om honde by wonings aan te val. In teenstelling hiermee, kan wilde diere skielik as mak voorkom.

Hondsdolheid is ‘n dodelike virusinfeksie wat beide dier en mens affekteer. Die virus kom voor in die speeksel van besmette diere en word deur die byt van hierdie diere oorgedra.

 Die ontkiemingstyd van die siekte nadat ‘n mens of dier gebyt is, is normaalweg vier tot agt weke. Daar is egter volgens inligting al gevalle gewees waar simptome na nege dae of selfs langer as ‘n jaar begin wys het. Die aanvanklike simptome sluit in koors, hoofpyn en verlies van aptyt. Dit word gevolg deur onrustigheid, verandering in gedrag en stuiptrekkings. In die geval van mense, is die persoon gewoonlik baie dors, maar kan nie drink nie as gevolg van die sametrekking van die spiere. Uiteindelik gaan die persoon in ‘n koma en sterf.

Dr Loock het ‘n beroep gedoen op inwoners om nie te wag vir die Staat om te begin met hul jaarlikse inentingsveltogte nie.

“As mense bekommerd is, moet hulle hul diere bring vir inenting,” sê Loock. Hy sê daar is tans genoeg entstof plaaslik in voorraad. Inenting is gratis en persone moet bloot die Staatsveearts skakel by tel. 015 516 4971/2 vir ‘n afspraak.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines